Huilwater: 30 stories in die langpad

Huilwater is 'n bundel van 30 stories deur Dr. Louis Bothma. Hy vertel van sy kindertyd in die Boesmanland, studentejare, van vriende, loopbaan en interessante karakters wat sy lewenspad gekruis het.
Bothma, Louis J.
23563
978-0-620-69741-5
sofort lieferbar
neu
26,80 € *

Titel: Huilwater
Subtitel: 30 stories in die langpad
Skryver: Louis Bothma
Genre: Memoirs en staaltjies
Uitgewer: Louis J. Bothma
Langenhovenpark, Suid-Afrika 2016
ISBN 9780620697415 / ISBN 978-0-620-69741-5
Sagteband, 15 x 21 cm, 291 bladsye, enige fotos

Beskrywing:

Huilwater is 'n bundel van 30 stories oor my kinderjare in die Boesmanland, studentejare en -vriende in Bloemfontein, loopbaan as dosent aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, latere betrokkenheid by projekte in Angola, reise saam met vriende deur die Kalahari en Suidwes (Namibië), interessante mense wat my lewenspad gekruis het, en uitstappies na Kimberley om my geliefde Griekwa-rugbyspan te ondersteun. Vir rugbyliefhebbers is daar trouens 'n vuis vol stories wat die tone sal laat omkrul van lekkerte. Ek vertel van ysters soos Frik du Preez, Jimmy Young en Jan Tromp. Luister weer Laurika Rauch se trefferliedjie en lees dan oor daardie beroemde Drie van Mannetjies Roux, waaroor haar oom steeds praat. Die wat van sport hou, sal waarskynlik ook Die Marathon geniet. Vir lesers wat in die Grensoorlog belangstel, is daar Oom Willie se Pad en Die Rooi Leeu en die terroriste.

Ter wille van diegene wat nie met militêre terme vertroud is nie, sluit ek 'n kort verklarende woordelys in. Waar ek na my skooldae verwys, gebruik ek "standerd" in plaas van "graad". Ek het grade op universiteit verwerf, nie op skool nie; ek was 'n "leerling" en nie 'n "leerder" nie. Daar is 'n verskil, soos daar 'n verskil is tussen 'n beroepsrugbyspeler en een wat vir "die liefde van die spel" gespeel het. Wat is huilwater? Dit is min of meer soos losbaadjiesak; nie woorde wat mens in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) sal vind nie. Tog is dit ook nie my eie skeppings nie, maar juweeltjies wat ek by mense gehoor het wat my lewenspad gekruis het. Losbaadjiesak is ene Dik Jan van die plaas Grasfontein in die Philipstown-distrik se sêding. Hy het my vertel hoe hy losbaadjiesak, "sommer so lekker", oor die draad gespring het toe die bul hom gejaag het.

At Vorster, 'n studentemaat van Fauresmith, het gepraat van huilwater wanneer hy eintlik bedoel het iemand of iets is "kookwater". Huilwater is sommer sulke lekker, kookwater stories. Soms is dit lag met 'n traan, maar geen wroegings nie. Dit is eerlik geskryf; nie politiek korrek nie, maar soos dit was. Moenie deur vandag se bril daarna kyk nie. Hierdie is die goeie ou dae, toe rugbytruie nog langmoue gehad het... Die leser ontmoet die ware karakters en sien hulle op ou foto's wat hier en daar al 'n bietjie ingehaal is deur die tyd. In 'n paar gevalle is fiktiewe name en plekke gebruik omdat ek bang is die ware karakters kan dalk aanstoot neem. Met Huilwater wil ek dankie sê en iets teruggee aan almal wat ek op die langpad ontmoet het. Dit is die mense wat my lewe verryk het- in die meeste gevalle nie geleerdes, vernames en rykes nie. Hulle is my stories in die langpad.

Inhoud: Huilwater. 30 stories in die langpad

Voorwoord
Woordelys
Krismis in die Boesmanland
"Het meneer-hulle moeilikheid?"
Kalkoenpan se mense
Belgiese Hoer en Bulldog Lanz
Wild & Woes
Die Feesvarke
Willehonnepan
Die marathon
Toe rugbytruie langmoue gehad het
Griekwaaaas!
"Kap hulle my lanie, kap hulle!"
Totsiens Ammosal
Die drie van Mannetjies Roux
Skei is nie perde koop nie
"Meneer, meneer, wat rep jy?"
'n Hoenderstorie in die bar op Trompsburg
'n Matriekmeisie byt my op varsity
Moet nooit die dommes en die dronkes onderskat nie
"Lady is nou voor... en die jakkals lê nou vyfde"
Geelslang pik spoeg
Oom Willie se Pad
Jou ou ramakkedis!
Die Rooi Leeu en die terroriste
Jan Tromp en die tier
Rondkyk Toere
"Is oom orraait?"
Angola laatjou nie maklikgaan nie
Tropdier en Tiena
Vaal Faan en die vrouens
Die langste storie

Weitere Empfehlungen zu Huilwater: 30 stories in die langpad