In klein maat, deur Audrey Blignault
1961 verwerf Audrey Blignault die Eugène Maraisprys vir haar eerste boek 'In klein maat: uit die dagboek van ’n vrou'.
Dis nou Trix
Vanaand voel ek weer soos ek as kind gevoel het as die ander kinders my te hoog gestoot het op die swaai sodat my kaal voete so skrams die tuinmuur raak en ek so teen die opvaart 'n duiselige kykie op tant Hannes se eendedam aan die ander kant van die muur kon kry. As ek van daardie swaai afklim, het ek so snaaks lig in my kop gevoel en half uitasem van die hoogte en die opwinding - net so voel ek vanaand ná die naweek by Trix. Want by dié liewe sussie van my swaai 'n mens altyd teen die hoogste vaart. Geen mak stootjies daar nie. Nee, as Trix 'n ding doen, doen sy dit nooit effentjies nie; of dit nou koeksisters is wat sy bak, beddens wat sy opmaak, 'n rok wat sy brei, 'n tennisbal wat sy oor die net slaan of 'n ongepoetste hond wat sy kasty. Alles pak sy met 'n verruklike oorgawe aan asof sy 'n behaaglike bevryding vind in die doen daarvan. "Ag nee kyk, Amanda, as ek tennis speel, wil ek die bal moker dat hy skuiwe oor die baan! 'n Mens moet mos darem iets op die aarde hê wat jy met jou hele krag kan slaatl As ek my kinders so moet slaan, verongeluk ek hulle. En toe ek die ellendige hond eendag 'n hou gegee het omdat hy op my tapyt moles gemaak het, toe was hy drie weke lank buite aksie. Nou ja, wat moet ek dan slaat as ek nie die tennisbal slaat nie? Nee, hulle moet tog nie dink ek sal so staan en puk-puk-puk asof ek bottertjies rol met 'n houtspaan nie." Nee, dit moet ek erken, vir bottertjies rol was Trix se aanslag van kleins af darem te kragtig. Alles wat ek te bang was om te doen, het sy gedoen: saam met die masjinis binne-in die lokomotief gery toe ons eendag saam met tant Hettie op Drewstasie was, en stralend vol roetkolle daar uitgeklim; op die pastorie se dak geklouter en die predikant se kleinseun uitgekoggel toe hy ons eendag te veel geterg het; haar pop se kop stelselmatig en koelbloedig afgekap omdat die pop se nek nie wou reg draai nie - en nie 'n flenter omgegee vir die straf wat gevolg het nie. Dit was juis daardie heerlike onverskilligheid ten opsigte van haar dade se gevolge wat ons ander se bewondering keer op keer gaande gemaak het, wat haar vanselfsprekend tot leier van elke kwajongstreek verhef het en 'n mens in jou latere berou oor jou misstap by haar laat troos soek het. Soos die keer toe ons by omie Boy-hulle op Sanddrif die hoender gebad het en ek die nag nie kon slaap van vrees en bewing oor die ding wat ons aangevang het nie. „Aag wat," het Trix ons gesamentlike gewete probeer paai, „wat sal 'n mens jou nou moeg maak oor 'n simpele ou hoender!" „Maar Trix, tant Vera het vanaand tog gesê die hoender se maag werk een stryk deur. En sy kan nie dink wat die hoender makeer nie." - „Nou ja, wat daarvan? Die hoender se maag kan van ooreet ook werk." [...]
Dit is 'n uittreksel uit die boek In klein maat, deur Audrey Blignault.
Titel: In klein maat
Ondertitel: Uit die dagboek van ’n vrou.
Skrywer: Audrey Blignault
Illustrasies: Katrine Harries
Uitgewer: Tafelberg-uitgewers beperk
Eerste uitgawe, tiende druk. Kaapstad, Suid-Afrika 1975
ISBN 0624006220 / ISBN 0-624-00622-0
Oorspronklike hardeband en stofomslag, 14 x 22 cm, 144 bladsye, sommige tekeninge
Blignault, Audrey im Namibiana-Buchangebot
In klein maat
In klein maat: uit die dagboek van ’n vrou verskyn in 1955 deur Tafelberg-Uitgewers in Kaapstadt.
Die vrolike lied
Audrey Blignault het gehoor dat Jakaranda in Spaans “die vrolike lied” beteken en hierdie titel vir haar boek verkies.