Die Winter kom, deur J. R. L. van Bruggen

Die Winter kom, deur J. R. L. van Bruggen. Unie-Boekhandel Bpk., Pretoria, Suid-Afrika 1950

Die Winter kom, deur J. R. L. van Bruggen. Unie-Boekhandel Bpk., Pretoria, Suid-Afrika 1950

Die volgende kapitel is 'n uittreksel uit die Suid-Afrikaanse roman 'Die Winter kom', deur J. R. L. van Bruggen (Kleinjan). Alle persone en gebeurtenisse is suiwer denkbeeldig behalwe waar 'n erkende geskiedkundige agtergrond uitgebeeld word.

J. R. L. van Bruggen  

Dr. van Rooyen betrag haarself in die spieël van die slaapkamer van haar gerieíiike woonstel in Clarendon Circle. Met 'n vinnige en handige beweginkie stoot sy 'n paar weerbarstige krulletjies langs haar slape reg en bekyk haar gesig dan krities in die spieël. 'n Paar lewendige bruin oë kyk terug na haar en amper outomaties begin sy met duim en voorvinger die hanepootrimpeltjies langs haar oë karnuffelend te maseer. Dan kom die twee lastige velgroefies, wat langs haar mooigevormde, reguit neus lyntjies getrek het, aan die beurt. Haar klein mond glimlag effens mat en weemoedig, terwyl sy hier en daar ook silwer drade in haar donkerbruin hare opmerk. „Ja-nee, jy is nie meer vandag se kind nie, Ria," mompel sy. Met 'n vinnige skouergebaar, asof hierdie sakie nou afgehandel is, draai sy van die spieël af weg, juis toe 'n Sjinese meidjie klop en in die eienaardige Engels, wat die kosmopolitiese inwoners van Hongkong praat, aankondig dat drie here haar graag wil spreek. „Laat hulle maar effens in die sitkamer wag, Fifi, en sorg dat die tee oor 'n minuut of tien reg is." - „Ja, Doktor," en geluidloos verdwyn die netjiese klein figuurtjie van die bediende. „Die here is mooi op tyd," sê die huisvrou binnens-monds, terwyl sy vlugtig na haar polshorlosie kyk. In die smaakvol gemeubileerde sitkamer, wat op 'n balkon uitloop, en vanwaaar 'n mens hier, ses verdiepings hoog, die druk verkeer van die netjies-uitgelegde sirkel as 'n dowwe, monotone gedruis, hoor, sit die drie besoekers in gemaklike leuningstoele op hulle gasvrou en wag. Werktuiglik dwaal hulle oë deur die kamer en word geboei deur die ietwat Oosterse atmosfeer, wat deur die verskil-lende meubelstukke en veral deur die pragtige batik-doeke, wat die mure warm en gesellig vol hang gesuggereer word. Dr. Van Rooyen laat nie lank op haar wag nie. Die drie here staan galant op en word met 'n innemende glimlag en die gemaklike gebaar van 'n geroetineerde gasvrou tuis gemaak. „Sit tog asseblief gou weer, here. Julle laat my so klein en omsingeld voel," lag sy, terwyl sy die drie mans, wat inderdaad heelwat bo die middelmatige lengte is, met 'n afwerende, tipies-vroulike gebaar opneem. „Nie klein nie, Dokter, maar ek sou liewer sê ,petit'," probeer kolonel Opperman, wat gedurende die tweede wêreldoorlog met dametjies in Parys geflankeer het, galant doen. „Petit of klein, dit maak geen verskil wat my betref nie. Sit, here," stel sy gemoedelik voor. „Werklik, as julle langer so bo my uittroon, sal ek verplig wees om wimpels om julle nekke te hang." - „Dit sou inderdaad 'n passende geleentheid wees om die gevierde dr. Van Rooyen te verwelkom," probeer mnr. Horatio Duke, 'n buikige, gemoedelike bakkerkoning van die Goudstad die galanterie aan die gang hou. Mnr. Philip Golden het sy lang, maer gestalte reeds gemaklik in die diep leuningstoel reggevou en bestudeer die beweeglike houding van sy gasvrou met intelligente, hoewel ietwat lugubere oë. „Ons was net besig om u smaakvolle vertrek te bewonder, Dokter," hervat kolonel Opperman. „Dis so anders as wat 'n mens gewoonlik sien." „U het seker baie dinge in die Ooste versamel toe u gedurende die oorlog daar was, nie waar nie," vul Horatio Duke aan, wie se liggrys oë wakker onder hulle velsakkies kan wegkruip, amper soos die vlies van 'n verkleurmannetjie. [...]

Dit is 'n uittreksel uit die roman Die Winter kom, deur J. R. L. van Bruggen.

Titel: Die Winter kom
Skrywer: J. R. L. van Bruggen
Uitgewer: Unie-Boekhandel Bpk.
Pretoria, Suid-Afrika 1950
Oorspronklike hardeband en stofomslag, 13 x 19 cm, 228 bladsye

van Bruggen, J. R. L. im Namibiana-Buchangebot

Die winter kom

Die winter kom

Die Winter kom was Kleinjan sy laaste roman.