Die vrolike lied, deur Audrey Blignault
Haar boeke, soos In klein maat (1956), Die vrolike lied (1957), Met ligte tred (1962), is in duisendtalle verkoop. Audrey Blignault het sedert 1947 gereeld boekprogramme oor die radio aangebied en haar gewilde praatjies het bygedra tot Afrikaanse vroue se belangstelling in die letterkunde.
Dis die mooiste naam vir 'n boom wat ek nog ooit gehoor het: jakaranda. Dit klink vir my soos die Strandveld se blou rivierwater wat om die riete sing as die son warm skyn. Mooier nog as magnolia en asalea, mooier selfs as oleander is hierdie Spaanse naam met sy sagte rondinge soos 'n duine-randjie. En noudat ek weet wat die Spaanse woord beteken, is ek bly oor die naam soos oor 'n kosbare vonds. Die naam jakaranda, het die Pretorianers vir ons gesê toe ons nou in die jakarandatyd daar was, beteken 'vrolike lied'. Vir my 'n volmaakte benaming, want 'n jakarandaboom in sy volle bloei is 'n vrolike lied, 'n lied wat sy blomme van vreugde deur al die ure van die dag uitskud in die spore van mense en 'n sagte skoonheid oor 'n harde stadstraat sprei, 'n lied wat soos 'n vergete geur oor 'n mens kom en jou weer klein maak van 'n groot verlange, 'n lied van die stuwende lewe wat vervulling vind in voldrae groei. Só was die vrolike lied vir my. Die Saterdagagtermiddag toe die huurmotor vir my en Johan van Pretoria se stasie deur die strate van die stad na ons hotel toe ry, val daar 'n egte Transvaalse grootdruppelreën. En alles is blou, dofblou soos die binnekant van 'n mosselskulp. Die lug is skemerig blou, Bolands blou vir my ongeoefende oog wat hier net windlose sonskyn verwag het. Die reën val blouerig teen die ruite van die motor. Die strate lyk blou soos koelte. Eers toe Johan sê: „Amanda, kyk die jakarandabome!" besef ek met 'n trilling van vreugde dat die silwerpers glinstering oor die strate van die jakaranda-bome kom. Hulle was so deel van die blou dat ek hulle nie een-een kon onderskei nie. En toe ek hulle sien, so stil onder die vallende reën, was hulle glad nie vir my soos bome nie, maar soos 'n groot, omsluitende lig oor die hele stad. Ek het gedink aan die beskrywing van die stad in Openbaring: en sy lig was soos 'n baie kosbare steen, soos die kristalheldere jaspissteen. Waarom het niemand my nog ooit vertel dat die somerreën oor Pretoria kom soos die stem van siterspelers en sangers, van fluitspelers en basuinblasers nie? Onder my mooiste herinneringe tel ek nou 'n reénoggend onder die jakarandabome. Altyd wil ek onthou hoe die reën in Kerkstraat geval het toe ek in my blou jas en rooi skoene teen die boekwinkelvensters van die Librigebou gestaan het. Die donderweer dreun en soos vlymwit pyltjies skiet die reën teen die blad van die blink teerstraat. Daar is 'n vaart in die spattende stroompies langs die sypaadjies, 'n drif in die val van die striemende water wat my hart laat lag en lekkerkry. Só het ek nog nie reën gesien nie. Só het die stortreën seker gelyk wat in Noag se dae oorhand gekry het op die aarde. Hier is die reën 'n gebeurtenis, 'n onderbreking van die dag se roetine, 'n onderwerp van gesprek, nie 'n aanvaarde deel van die omgewing soos by ons nie. Op die sypaadjies en in die wandelgange staan die mense stil om na die reën te kyk. Almal praat oor die reën. [...]
Dit is 'n uittreksel uit die boek Die vrolike lied, deur Audrey Blignault.
Titel: Die vrolike lied
Skrywer: Audrey Blignault
Illustrasies: Katrine Harries
Uitgewer: Tafelberg-Uitgewers beperk
Eerste uitgawe, negende druk. Kaapstad, Johannesburg Suid-Afrika 1971
Oorspronklike hardeband en stofjas, 14 x 22 cm, 152 bladsye, sommige tekeninge
Blignault, Audrey im Namibiana-Buchangebot
Die vrolike lied
Audrey Blignault het gehoor dat Jakaranda in Spaans “die vrolike lied” beteken en hierdie titel vir haar boek verkies.
In klein maat
In klein maat: uit die dagboek van ’n vrou verskyn in 1955 deur Tafelberg-Uitgewers in Kaapstadt.