Die Burgemeester van Slaplaagte, deur Jochem van Bruggen
Die Afrikaanse prosa tot die dertigerjare sy hoogtepunt in die werk van Jochem van Bruggen vind, veral in sy roman Die Burgemeester van Slaplaagte.
Slaplaagte
Verlep deur 'n broeiwarme somerson lê Slaplaagte dooierig in die lankgerekte holte van 'n breërug-bukeveld. Dooierig, want 'n taai droogte het 'n gees van moedeloosheid laat sak oor die ganse omgewing. Die boerdery lê lewensloos, en so te sê nêrens is arbeid te bespeur nie; selfs die vee wei traag en teësinnig in die harde vaalgras. Lappe mielies staan inmekaar gedraai, so treurig om aan te sien soos afgeíeefde riete; en pampoenblare bly snags ook al soos vadoeke om hul steeltjies hang. Al die gewasse wat nie af en toe deur die verswakte watertjie benat kan word nie, verskrompel meer en meer - selfs dié wat nou en dan 'n laafnis ontvang. Selfs die bome, wat hulle wortels diep agter die vogtigheid aanskiet, treur oor die lewe wat van Slaplaagte gewyk het. Net 'n wilger naby die dam se uitloop floreer en troos al wat daar onder die afhangende lower 'n skuiling soek, en versag die harde werk van die wasvrou daar langs die plat leiklip hieronder digby die stam - die wasvrou wat moet sorg en verdien vir haar huisgesin daar in die parmantige woninkie wat so eenkant van al die ander huise af staan. Niks ontsenu 'n boerdery meer as 'n aanhoudende droogte nie. Laat stortvloed op stortvloed neerkletter of 'n drie- tot agdaagse reën alles deursop, laat haelbuie en windstorms skade aanrig; solank daar net lewe in die klimaat is, sal dit die werklus prikkel en die gees skerp tot weerstand. En stryd bring lewe, en lewe voed die energie wat waterkerings bou en sugslote uithaal en windbreke aanlê en selfs haeltorings oprig. Daar moet net woeling in die natuur wees. Maar stadig en gewis verslap die werklus met die aanhou van die droogte en kwyn die lewe in 'n boerdery weg; want daar is geen stryd te voer teen die stille, strawwe vyand wat onverbiddelik die lewensap opsuig nie. Daarom die gees van neerslagtigheid oor Slaplaagte se gemeenskap, waarin by wyle hier en daar 'n flikkering van opstand weerlig of 'n sagte gloed van hoop skyn, maar nêrens lewenslus nie. Slaplaagte is 'n groot plaas, wat vroeër aan die oupa van die grootste deel van die teenswoordige besitters behoort het. Nou is die plaas opgesny en onderverdeel, en 'n klein stukkie is apart afgemeet vir ene Landau, wat daarop sy winkel en basterhotelletjie langs die transportpad gebou het. 'n Ander stuk is nou die Goewerment s'n waarop die onderwyserswoning staan, en die skool soos 'n witgepleisterde bakoond. En nog 'n ander gedeelte behoort aan 'n kalkbrandery, en daar lyk dit vandag in die bakhitte regtig na 'n brandery; en dis ook maar stil-lerig daar. Met baie lang tussenpose ry 'n wa lui oor die transportpad van die kalkbrandery af na die stasie, omtrent 'n uur te perd van Slaplaagte verwyder; altoos in 'n digte stofwolk ry die wa geduldig aan en kom oor 'n paar uur net so dooierig van die stasie af terug. Die eerste aanleg van ou vader Oberholzer bly nog prominent in die middel van 'n streep opstalle wat met die groei van die familie verrys het - net een huis staan baie eenkant, brutaal op 'n bultjie, asof hy glad nie by enige boerdery wil behoort nie. Nou bly daar in die lankgerekte holte van Slaplaagte behalwe die Oberholzers, of Oorholsters, soos hulle genoem word, nog die Van Stadens en Lodewikus Prinsloo, wat onder die boere bekend staan as oom Lood en die persoonlikheid is wat in daardie eensydige huisie woon en die groot geluk het om die vrou by die wasplek onder die wilger - tant Levina - as sy vrou te besit. [...]
Dit is 'n uittreksel uit die roman Die Burgemeester van Slaplaagte, deur Jochem van Bruggen.
Titel: Die Burgemeester van Slaplaagte
Skrywer: Jochem van Bruggen
Genre: Roman
Uitgewer: Die Afrikaanse Pers-Boekhandel
Vierde Druk. Johannesburg, Suid-Afrika 1961
Oorspronklike hardeband en stofomslag, 13 x 19 cm, 107 bladsye
van Bruggen, Jochem im Namibiana-Buchangebot
Die Burgemeester van Slaplaagte
In die roman 'Die Burgemeester van Slaplaagte' is die lot van die Suid-Afrikaanse mynwerkers, armblankes, en bywoners uitgebeeld.
Mooi Loop: Bantoe Keurverhale
Mooi Loop is 'n rare en versoenende bundel van "Bantoe" keurverhale uit 1955.