Vereeniging. Die onvoltooide vrede, deur Leon Wessels

Vereeniging. Die onvoltooide vrede, deur Leon Wessels. Umuzi-Random House Struik. Cape Town, 2010. ISBN 978-1-41-520121-3

Fotos uit: Vereeniging. Die onvoltooide vrede. Leon Wessels. ISBN 9781415201213

Vereeniging, die onvoltooide vrede, deur Leon Wessels, is 'n eeriike en gebaianseerde toer deur ons geskiedenis.

I. 'n polisiehuis

Toe die polisietydskrif The Nongqai in Mei 1946 aankondig "Sub-Insp and Mrs WA Wessels, of Kroonstad, are to be congratulated on the arrival of a son, Leon, on 19 April," het niemand vir my 'n poli-tieke loopbaan voorspel nie. Dit was net nie die omgewing waarin ek gebore is nie. My pa, Willie, was in murg en been 'n polisieman en in ons polisiehuis is daar nooit politiek gepraat nie. Toe ek later self polisieman geword het, het ek jare lank draaie om mense geloop wat politiek praat, want die politiek was verdelend. Uit huis uit het ek geleer 'n polisieman dien die publiek, ongeag sy of haar politieke oortuigings. Niemand kon op my geboortedag voorsien het hoe die politieke woelinge rondom 1946 my lewe en dié van my geslag sou raak nie. Dit was die jaar waarin Suid-Afrika se probleme by die Verenigde Nasies (VN) begin het. Suid-Afrika se rassevraagstukke het inter-nasionaal aandag begin kry en is geïnternasionaliseer. Die administrasie van die destydse Suidwes-Afrika (SWA) sou 'n doring word in Suid-Afrika se verhouding met die VN. Baie woorde, drukkersink - en bloed - sou vloei voordat dié vraagstukke opgelos is. Internasionale en binnelandse verset het mettertyd gelei tot Suid-Afrika se isolasie. Geen Suid-Afrikaanse vliegtuig sou toegelaat word om oor Afrika te vlieg nie, handel- en sportboikotte is ingestel sodat Suid-Afrika jare lank uitgesluit was van die internasionale rugby-en sokkerwêreld en ons atlete verbied is om aan die Olimpiese Spele deel te neem. Suid-Afrika het die muishond van die wêreld geword. Dít was die belewenis van my geslag. Ek is deel van 'n generasie wat as die "baby boomers" bekend staan. Van kort ná die Tweede Wêreldoorlog tot 1960 het 'n geboorteont-ploffing in Amerika, Kanada, Engeland en Australië plaasgevind. Dit was 'n regstreekse gevolg van die ekonomiese groei van daardie tyd en die gevolglike optimisme wat gedy het. In die 22 jaar wat ek aan die politiek deelgeneem het en die tien jaar wat ek lid van die Menseregtekommissie was, het ek dié nalatenskap van naby bekyk. As 'n wit Suid-Afrikaner is ek baie beïnvloed deur gebeure in die Angel-Saksiese en Europese wêreld. My geslag is ingesuig deur die ervaringswêreld van ons buitelandse tydgenote; ook deur die ontploffing van populêre en rockmusiek. Beatlemania en Elvis Presley was vir ons net so relevant soos vir ons eweknieë in die buiteland. Ons het ons vereenselwig met die musiek, die flieks, die politieke en militêr-strategiese gebeure. Buitelanders was in vele opsigte nader aan ons as ons swart tydgenote in ons eie land. In die buiteland het die baby boomers verskeie gewigtige oom-blikke beleef. Daar was die Watergate-skandaal, die bedanking van Richard Nixon, die Koue Oorlog, olieboikotte en -tekorte, en weghol-inflasie. Die Suid-Afrikaanse baby boomers het ewe veel dramatiese gebeure beleef, soos die die moorde op Hendrik Verwoerd, Robert Smit, 'n kandidaat van die Nasionale Party (NP) in die 1977-verkiesing, Steve Biko, swartbewussynsleier, Johan Heyns, bekende teoloog van die Universiteit van Pretoria, asook Chris Hani, vryheidsvegter en bekende ANC-politikus. Aan die positiewe kant was daar die eerste hartoorplanting deur dokter Chris Barnard in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Vier Suid-Afrikaners het die Nobelprys vir vrede ontvang, Albert Luthuli, Desmond Tutu, Nelson Mandela en FW de Klerk. En Suid-Afrika het daarin geslaag om petrol uit steenkool te vervaardig. Die land is egter ook omgekeer deur opstand teen 'n politieke stelsel, apartheid. Ons het onder 'n noodtoestand geleef wat daarop gemik was om die politieke onrus te stuit. [...]

Dit is 'n uittreksel uit die boek Vereeniging. Die onvoltooide vrede, deur Leon Wessels.

Titel: Vereeniging
Ondertitel: Die onvoltooide vrede
Skrywer: Leon Wessels
Uitgewer: Umuzi / Random House Struik
Cape Town, South Africa 2010
ISBN 9781415201213 / ISBN 978-1-41-520121-3
Sagteband, 15 x 22 cm, 416 bladsye, enige s/w fotos, Afrikaans

Wessels, Leon im Namibiana-Buchangebot

Vereeniging: Die onvoltooide vrede

Vereeniging: Die onvoltooide vrede

Vereeniging: Die onvoltooide vrede is 'n passievolle pleidooi teen rassisme en vir die regstaat, menseregte, die armes, en versoening.