'n Seun soos Bram, deur Hannes Haasbroek

'n Seun soos Bram, deur Hannes Haasbroek. ISBN 9781415201473 / ISBN 978-1-4152-0147-3

'n Seun soos Bram, deur Hannes Haasbroek. ISBN 9781415201473 / ISBN 978-1-4152-0147-3

'n Seun soos Bram is die eerste biografie in Afrikaans oor hierdie hoogs bekende, verworpe en vereerde Afrikaner. Outeur is Hannes Haasbroek.

Hannes Haasbroek  

Die lewe van die enigmatiese Bram Fischer is vir baie Suid-Afrikaners, veral Afrikaners, 'n misterie. Bram, die Afrikanerseun wat kommunis geword het, is deur baie van sy volksgenote en die apartheidsregering as aartsterroris verguis en jare na sy dood deur die nuwe bewindhebbers in Suid-Afrika as 'n ikon van die vryheidstryd, oftewel die struggle, vereer en opgehemel. Omdat hy as Afrikaner 'n kommunis was en in die lig van die Afrikaners se afsku van kommunisme gedurende veral die apartheidsjare, was die Bram Fischer-naam vir hulle gelykstaande aan boosheid. Wanneer sy naam in "ordentlike" Afrikanergeselskap opgeduik het, is dit gewoonlik met die onheilspellende geassosieer. Ek onthou nog hoe die vermelding van Bram Fischer se naam in die media, of die noem van sy naam in my skooljare op die Vrystaatse platteland, 'n gevoel van onrus in ons ouerhuis gewek het. Sommige mense is selfs nou nog merkbaar verontrus by die aanhoor van dié naam. Maar Bram Fischer stam uit die "adel" van die Vrystaat en uit families wat republikeins- en Afrikanergesind was. Hy is selfs aanvanklik in Afrikaner- en nasionalistiese kringe as 'n moontlike aanspraakmaker op groot luister in die politiek gekoester. Sy betrokkenheid as Afrikaner, kommunis en leiersfiguur in die struggle in Suid-Afrika het egter aan hom uitsonderlike groot aansien in dié kringe besorg. Bram sou dus nie net teen die apartheidstelsel rebelleer nie, maar in wese teen sy eie Afrikanerstand. Vir húlle die voorbeeld van hoe 'n man van inbors uit eie geledere die politieke pad geheel en al byster kon raak. Daar is weinig twyfel dat Bram Fischer die apartheidsbestel van die Afrikaner grondig uitgedaag het. Bram, die Jekyll en Hyde-fenomeen van Suid-Afrika? (In sy roman The Strange Case of Dr Jekyll and Mr Hyde - dis ook in 'n rolprent omskep -beeld R L Stevenson die teenstrydige kante van dieselfde persoon uit. Die gekultiveerde dokter Jekyll ontketen dit wanneer hy 'n drankie voorberei en afsluk, en in die bose Hyde verander.) Die metamorfose wat 'n Afrikaner-seun soos Bram in sy lewe ondergaan het, het hom stellig vir talle van sy volksgenote in dié kategorie geplaas. Van nasionalis na kommunis; van 'n Christelike agtergrond na ateïs en bowenal van die vriendelike hulpvaardige omie, met die grys kop, vergestalt in die gesinsman en vlymskerp advokaat, na die opperste, geslepe samesweerder om die Afrikanerregering deur "bose" dade, onder andere sabotasie, te kelder. In Mei 1975, kort na Bram Fischer se afsterwe, het Die Burger, toe nog getroue ondersteuner van die apartheidsregering, in die eerste sin van sy hoofartikel geskryf: "Bram Fischer, afgestorwe leier van die Kommunistiese Party in Suid-Afrika, had 'n kleurryke, tragiese lewe wat werd is om veral deur mede-Afrikaners bepeins te word." Vanweë die knelgreep van die regering op die samelewing in daardie jare en sy genadelose onderdrukking van die struggle was talle bronne wat die volle lewensverhaal van Bram tot sy reg kon laat kom, vanself-sprekend nie geredelik beskikbaar nie. Na die eerste ware demokratiese verkiesing in 1994 is linkse en struggle-literatuur en -dokumentasie behoorlik op die samelewing losgelaat. Sodoende kon die land vir die eerste keer werklik met die omvangryke Fischer-sage kennis maak om die ware verhaal van hierdie kommunistiese leier in al sy faam en verdriet te beleef én daaroor te "peins". Om vir 'n slag insig te kry in die ander kant van Bram Fischer: sag-geaard en vriendelik, iemand wat sy ouers op die hande gedra het - on-getwyfeld die teenpool van die "boosheid" wat hy gewoonlik vir menigeen verteenwoordig het. Ofskoon Bram as saggeaard beskou is, staan dit in die konteks van sy omgang met mense. In sy werk en politieke aksies het hy dikwels verbysterende deursettingsvermoë getoon. Daarbenewens was hy 'n kranige sportman wat in rugby en tennis uitgeblink het en dit geniet het om hom in die amateursbokskryt te bevind. Of jy akkoord met dié struggle-aktivis se kommunistiese sienings kon gaan en of jy hom daarvoor verag het, Bram Fischer was óók 'n gewone mens, 'n Afrikanerseun met 'n plaasagtergrond, 'n liefdevolle gesinsman wat die daaglikse lief en leed in familieverband ervaar het. Sy politieke en ideologiese sienings daar gelaat, én sy latere ateïsme, asook sy skuldig-bevinding aan sabotasie, was hy in sekere opsigte die toonbeeld van 'n Christen wat sy omgang met sy medemens betref het. Deur geboorte en ook later deur haar huwelik, was Bram se ma, Ella Fischer, bestem om in die voorste kringe van haar gemeenskap te beweeg.

Dit is 'n uittreksel uit die boek: 'n Seun soos Bram, deur Hannes Haasbroek.

Titel: 'n Seun soos Bram
Skryver: Hannes Haasbroek
Typ: Biografie
Imprint: Umuzi
Uitgewer: Randomhouse Struik
Kaapstad, Suid Afrika 2011
ISBN 9781415201473 / ISBN 978-1-4152-0147-3
Sagteband, 15x22 cm, 400 bladsye, Taal: Afrikaans

Haasbroek, Hannes im Namibiana-Buchangebot

'n Seun soos Bram

'n Seun soos Bram

'n Seun soos Bram is 'n spannende verhaal van die kommunis Bram Fischer, leier van ’n revolusionêre beweging in Suidafrika.

Woudfontein: 'n Spanningsroman

Woudfontein: 'n Spanningsroman

Woudfontein is Hannes Haasbroek se debuut en vertel die verhaal van kaptein Roelf Bester wat in ’n onderonsie met ’n wiskunde-onnie betrokke raak.

Weitere Buchempfehlungen

Boer Boy. Memoires of an Anglo-Boer War youth

Boer Boy. Memoires of an Anglo-Boer War youth

Enthralling, poignant and richly informative, Boer Boy is a valuable addition to the history of the Anglo-Boer War.