Versamelde Werke van C. M. van den Heever, deur Christiaan Maurits van den Heever

Versamelde Werke van C. M. van den Heever. Christiaan Maurits van den Heever, Afrikaanse Pers Boekhandel. Johannesburg, Suid-Afrika 1957.

Versamelde Werke van C. M. van den Heever. Christiaan Maurits van den Heever, Afrikaanse Pers Boekhandel. Johannesburg, Suid-Afrika 1957.

C. M. van den Heever  

Christiaan Maurits van den Heever is op 27 Februarie 1902 in die konsentrasiekamp van Norvalspont gebore. Na die oorlog het hy kennis gemaak met die ellende en verarming wat die gevolg was van die vernietiging van woning en vernieling van plase gedurende die genadelose stryd. Die eerste skool wat hy bygewoon het, was op Krugerspoor in die distrik Trompsburg. Dit is die landskap, dikwels so kaal en verlate en vol verre, harde bulte en rantjies, en dié eenvoudige mense van die Suidelike Vrystaat wat hy in sy prosa met liefde uitbeeld. Van hierdie skool af is hy in sy vyfde standerd na Bloemfontein. Aan die Grey-kollegeskool het hy sy matrikulasie afgelê. Reeds hier het hy blyke gegee van besondere belang-stelling in geskiedenis en letterkunde. Na sy matrikulasie was hy vir 'n rukkie as onderwyser en staatsamptenaar werksaam. Hy het egter sterk die drang na 'n deeglike universiteitsopleiding gevoel en is begin 1922 met toekenning van die Thomas Robertson-beurs, na die Grey-Universiteitskollege waar hy einde 1924 sy B.A.-graad met onderskeiding in Hollands en Geskiedenis behaal het. Van die eksamensaal is hy na die redaksie van Die Landbouweekblad. Gedurende die tyd wat hy redaksiewerk gedoen het (vanaf 1925 aan Die Volksblad) het hy sy studie in Nederlands en Afrikaans onder prof A. Franken en prof. D. F. Malherbe voortgesit en einde 1926 sy M.A.-graad met onderskeiding behaal, waarop die Porterbeurs aan hom vir buitelandse studie toegeken is. Hy het hierop sy werksaamhede, as redakteur van die letterkundige ontspanningsrubriek van Die Volksblad, laat vaar om verder te studeer. Twee trekke was van kindsdae in hom aanwesig: beide 'n drang na die droom en na die daad. Hy het van vroeg af aan geglo dat gawe van die digterskap veel mag beteken, maar dat 'n goeie letterkundige 'n noeste arbeider moet wees en steeds in die volle werklikheid moet staan. Naas die dromer in hom was daar steeds die mens wat iets tot stand wil bring. By hom word gedagte en daad maklik een, sy lewensfilosofie is gebou op die gedagte dat mens positief in jou strewe moet wees en dat jy kwaad nie met kwaad moet bestry nie, maar met die goeie. Reeds vroeg al word dit duidelik in sy lewensbeskouing en skemer dit deur as agtergrond van sy letterkundige werk. Hy is in Julie 1927 getroud met mej. Martie Klopper van Dewetsdorp wat hy in sy studentejare op Grey leer ken het. Op 2 Februarie 1928 is hy na die Universiteit van Utrecht vir verdere studie, en behaal einde 1929 sy doktoraal in die Nederlandse letterkunde. In 1932 promoveer hy aan die Universiteit van Suid-Afrika op 'n proefskrif Die Digter Totius, Sy Betekenis vir die Afrikaanse Letterkunde. Sedert 1931 tree hy op as lektor in Nederlands en Afrikaans aan die Grey-Universiteitskollege; in 1933 is hy aangestel as professor in Afrikaans en Nederlands aan die Witwatersrandse Universiteit. Van den Heever is een van ons vooraanstaande digters en het sewe bundels gedigte gepubliseer: Stemmingsure (1926); Die nuwe boord (1929); Deining (1932); Aardse vlam (1938); Versamelde gedigte (1945); Verhalende gedigte (1950) en Honderd sonnette (1955). Sy prosawerk is van die beste wat ons in Afrikaans besit: Op die plaas (1927); Langs die grootpad (1928); Droogte (1930); Simson (1932); Groei (1933); Vuurvlieg en sterbe (1934); Somer (1935); Die afrikaanse gedagte (1935); Kromburg (1937); Kruispad (1938); Laat vrugte (1939); Gister (1941); Die stryd om ewewig (1941); Nooit! (1942); Van aangesig tot aangesig (1942); Generaal J. B. M. Hertzog (1943); Anderkant die Berge (1944); Ringloop van die winde (1945); Woestynsand dek die spore (1946); Mens en woord (1947); Die held (1948); Marthinus se roem (1949); Jeug (1951); Die laaste Baken (1951); Vannag kom die ryp (1952); Dirk se oorwinning (1953); Swaard van die oomblik (1954); Delwer en sif (1954) en Beelde in die stroom (1956). In sy eerste bundel gedigte (Stemmingsure) sing Van den Heever oor sy eie onvergenoegsaamheid. Soos die opgroeiende jeug is hy wat met groot wonderoë na die lewensraaisels kyk en tastend soek na die sin van ons bestaan. In aard skugter, in rigting sentripetaal, vertolk hy die waargenome. of as dit in sy probleemwaarde bo hom gaan, vra hy oor en oor en peinsend en mymerend wat tog die oplossing mog wees, of anders klae hy dat die mens met sy verstand die doel van die dinge nie kan gryp nie. Die grondtoon is droefgeestig en swaarmoedig. Die onderwerp is veraf, ontasbaar soos die blouige waas in die diep bergklowe, en word gesien in gedempte lig. Selde skyn die son, gewoonlik is alles oorglans deur die maanstrale of die skemerlig. Van den Heever sing oor dood en verganklikheid, oor droom en ideaal, verlore jeug en herinnering. Hy is geen realis wat oor hom skou nie; hy is 'n romantikus en kyk na binne. In die Nuwe boord staan hy nou eerder binne die lewe as daarbuite, is minder passief, deurworstel die probleme en deur-tas die raaisels tot hy 'n oplossing vind, reg of verkeerd, maar vir hom bevredigend. Sy natuurgedigte hier is kontemplatief en simbolies. In Deining soek hy die domein van die poësie in die domein van die ewige universele en algemene. Hy oorglans die gewone verskynsel en gebeurtenis met die lig van die bo-aardse en bo-tydelike. In sy taal het Van den Heever Afrikaans buigsaam en atleties gemaak; dit met hoofse bewegingsgrasie verfyn, bv. „hy sug en sonrooi bewe in sy baard". In Aardse vlam is die mens vir Van den Heever 'n versplinterde wese: in hom brand die aardse vlam en die hemelse vuur. Hy is nietig en strewe na die oneindigheid. Word hy deur die dinge om hom te sterk aan sy eindigheid, aan sy ouderdom, dood, herinner, versteur dit vir 'n tydjie sy ewigheidsdroom en dit ontstem hom. Die digter wek graag in ons gemoed die gevoel van ontstemdheid en onrus, net soos in honderd sonnette waarin die dood die steeds terugkerende refrein is. Van den Heever behoort tot ons grootstes om die werwingskrag van sy humane en wydkringende gedagtes en om die vormkrag waarmee hy daaraan gestalte kan gee in edele, verfynde taal. Die denker en die digter is 'n hoë berg in ons landskap. In sy eerste novelle, Op die plaas (1927), beeld Van den Hee-ver die plaaslewe en die natuur liefdevol uit, en teen hierdie agtergrond die liefdeservarings van die skugter plaasboertjie, Freek. Die simboliek en die verband tussen die gemoedstemming van die karakters en die weersgesteldheid is goed volgehou. In Langs die grootpad (1928) word weer die sielelewe van 'n plaasseun teen die plaasagtergrond uitgebeeld. Wat bevredig, is die gees van 'n kenmerkende plaasatmosfeer waarin die boer met sy besondere lewensopvatting, gebaar, dialoog en probleme na vore tree. Met die novelle Somer (1935) bereik Van den Heever 'n hoogtepunt. Sy boere is verknog aan die aarde wat hulle voed en dan weer soveel kan laat ontbeer. Die plaas en die natuurkragte het 'n werking geword in hulle lewe en bepaal die gang daarvan, dis nie meer blote agtergrond nie. Steeds bly die gedagte aan verganklikheid en aan die sirkelgang van alle lewe, soos van die seisoene, die skrywer by. Die kompleks mensaarde het Van den Heever met somer geslaagd uitgebeeld; hy het 'n gelukkige versoening hier bewerkstellig tussen die dualisme van die romantiese en die realistiese wat sy werk kenmerk. Die liriese uitinge gaan gepaard met die fyner waarneming van die realistiese kuns. Ook in Van den Heever se talle kortverhale en novelles geniet die plaaslewe liefdevolle aandag, soos in die verhaal taai wortels. 'n Volledige uitbouing hiervan kry ons in Laat vrugte (1939). Ná Somer is dit, tot Die Held (1948), een van Van den Heever se sterkste romans: die verhaal van 'n uiters koppige ou boer wat iedereen van hom vervreem. By Van den Heever vind ons dikwels meer as een tema in werk aanwesig. In die roman Droogte (1930) is die droogte die hooftema, maar haas net so belangrik is die armblanke teen die agtergrond van die plaaslewe. In die ointwikkelingsgang van Van den Heever is hier opgemerk dat hy hom hier in hoë mate bevry het van die lirisme van sy vroeëre werk. Hy probeer die uiterlike dinge tot in die fynste besonderhede uitbeeld en lewer sterk beskrywingskuns, soos met Ou-Datie. Na die plaaslewe wend Van den Heever hom tot die stad in sy romans, en dit is juis met sy roman Groei (1933) dat die stad ook in die Afrikaanse prosa 'n rol speel. Van den Heever sien die Afrikaner weggroei van sy verlede af, groei na die stede toe waarvoor hulle nog nie ryp is nie. Met vuurvlieg en sterbe (1935) het hy die maatskaplike probleme wat die verstedeliking meebring in enkele verhale skerp belig. Ongetwyfeld Van den Heever se sterkste roman oor die stadslewe en die rol wat die Afiïkaner daarin speel, is Die held (1946). Dit is 'n breedopgestelde roman wat die stadslewe in sy fynste nuanseiïnge, goed en sleg, skilder. In strekking sluit die novelle Marthtnus se roem (1949) hom nou aan by die held. Hier is die skrywer ook die vlymskerp satirikus wat die spot dryf met 'n egoïs se holle roem, met die skynheiliges onder ons geestelike leiers. Die kleindorpslewe tree na vore in Kromburg (1937), ons kry 'n treffende beeld van die kleinburgerlike verhoudings met eindelose geklets en kwaadwillige skinderpraatjies van mense sonder opbouende belangstellings. Dit is nie nodig om verder in besonderhede te tree i.v.m. die verskillende romans en kortverhaalbundels van C. M. van den Heever nie. Die beste is om die Versamelde Werke by verskyning aan te koop en alles te lees.

Dit is 'n uittreksel uit die reeks Versamelde Werke van C. M. van den Heever.

Titel: Versamelde Werke van C. M. van den Heever
Skrywer: C. M. van den Heever
Reeks: Dele 1-8 en Gedenkboek C. M. van den Heever
Uitgewer: Afrikaanse Pers Boekhandel
Johannesburg, Suid-Afrika 1957
Oorsponklike hardeband, 14 x 21 cm, 2944 bladsye, swart en wit fotos

van den Heever, C. M. im Namibiana-Buchangebot

Versamelde Werke van C. M. van den Heever

Versamelde Werke van C. M. van den Heever

Die Versamelde Werke van C. M. van den Heever bevat die dele 1 tot 8 asook die gedenkboek ter ere van een van die belangrikste skrywer en digter von Suid-Afrika.

Laat vrugte

Laat vrugte

Die Suid-Afrika roman Laat Vrugte word beskou as C. M. van den Heever se rypste werk.

Die stryd om ewewig

Die stryd om ewewig

Die stryd om ewewig bevat opstelle oor die dan strewe van die Afrikaner na kulturelle selfstandigheid in Suid-Afrika.

Somer

Somer

Somer is C. M. van den Heever se bekendste werk en 'n novelle wat meer herdrukke belewe het as enige ander werk van hierdie aard en omvang in Afrikaans.

Mooi Loop: Bantoe Keurverhale

Mooi Loop: Bantoe Keurverhale

Mooi Loop is 'n rare en versoenende bundel van "Bantoe" keurverhale uit 1955.

Das Leben schreitet weiter: Ein südafrikanischer Bauernroman

Das Leben schreitet weiter: Ein südafrikanischer Bauernroman

Ein wunderschöner südafrikanischer Roman über das Land, die Bauern, junge Leute und Liebe in den 1930er Jahren ist 'Das Leben schreitet weiter'.

Afrikaanse Lyrik: Afrikaans-Deutsch

Afrikaanse Lyrik: Afrikaans-Deutsch

Afrikaanse Lyrik enthält 78 Gedichte aus verschiedenen zeitlichen Epochen, die sowohl in ihrer ursprünglichen Sprache Afrikaans als auch in Deutsch übersetzt abgedruckt sind.