Uit ons prille jeug, deur A. G. Visser

Uit ons prille jeug, deur A. G. Visser. Nasionale Pers Bkp. 3. druk. Kaapstad, Bloemfontein, Port Elizabeth, Suid-Afrika 1942

Uit ons prille jeug, deur A. G. Visser. Nasionale Pers Bkp. 3. druk. Kaapstad, Bloemfontein, Port Elizabeth, Suid-Afrika 1942

A.G. Visser (1878–1929) was 'n bekende, vroeë Afrikaanse digter. Die digbundel 'Uit ons prille jeug' is 1930, een jaar nadat hy gesterf het, uitgegee word.

A. G. Visser  

Kinders, of julle groot of klein is, of julle in die sub-standerds of in die middelbare skool is, julle sal, as julle werklik nog kinders is en nie grootman wil speel voor dit tyd is om grootman te word nie, hierdie rympies van dokter Visser mooi vind, net soos ek, wat al lankal oor my kindertyd is, hulle mooi vind. Dokter Visser is dood. Hy het gesterf toe hy nog taamlik jonk was, ná 'n lewe wat baie hard en werksaam was. Daar is duisende wat hom liefgehad het omdat hy 'n eersteklas dokter was, en omdat hy hulle gehelp het en hulle verligting gegee het in pyn en siekte; daar is ook duisende vir wie hy plesier gegee het met sy gediggies; en daar sal later nog meer wees, want 'n goeie gediggie bly lewe, terwyl die beste dokter doodgaan en soms vergeet word. Dokter Visser het die meeste van hierdie rympies vir sy eie kleinspan geskryf. Hy het onthou hoe hyself, toe hy 'n kind op die plaas was, waar hy nie boeke kon kry nie, nie na die bioskoop kon gaan níe, en nie al die vermake gehad het wat die meeste van julle nou besit nie, moes sukkel en sug om iets te kry wat hy kon opsê en mooi vind. Daarom het hy hierdie erfnis aan sy eie kinders en aan julle nagelaat. Waardeer dit, want so 'n erfnis is meer as goud werd. En die beste waardering is dat julle dit uit die kop leer, en dit opsê, soos hyself dit opgesê het, sodat die gediggies „sing," en julle selfs uit die sangerigheid daarvan julle kan verbeel dat dit musiek is wat die dokter nagelaat het en wat julle nou nog hoor.

C. Louis Leipoldt
Kaapstad, 15 Julie 1930

Uit ons prille jeug: Kierang speel

(Met ingehoue trane, wetende dat kierang sal braai)

‘Waarom speel jul twee nie soet nie?
Dwarstrek is wat jul nie moet nie.’
‘Ek wil graag, maar Boetie wil nie.
Hy's nie twee minute stil nie.
Mammie kan jou nooit verbeel nie
Hoe selfsugtig hy kan speel nie.
Staan hy daar nog so bedees,
Ek moet altyd minste wees.
Speel ons motorongeluk,
Dan ry hy die kar aan stuk;
Maar hy's darem póéliesman,
Vra ons nommer, naam en van.
Dan kom hy die mense haal,
Neem hul na die hospitaal.
Ek mag nie eens dokter wees
Om die wonde te genees.
Sterf een, dan's hy predikant,
En dan praat hy land en sand.
Nou wil hy nog koster wees
Om die doodslys af te lees.
Ek moet stil sit en tevree,
Diepbedroefde, swaarbeproefde
Arme motor-weduwee.
'k Weet dis lelik om te klik,
Maar ek is al moeg gesnik.’
‘Nou ja, boetie Slim-en-Sterk,
Soos jy speel, moet jy ook werk:
Mammie hoef nie eens te vra nie
Wie vir haar sal water dra nie;
Wie vir haar die stoep sal vee nie;
Wie die hoenders kos sal gee nie.
Sustertjie, sit jy nou daar
Met jou handjies oormekaar;
Kyk hoe boetie Fluks-en-Sterk,
Hoe hy vorder met sy werk!’

Dis is 'n uittreksel uit die digbundel Uit ons prille jeug, deur A. G. Visser.

Titel: Uit ons prille jeug
Digter: A. G. Visser
Genre: Gedigte
Illustrasies: Yolande en Ada Fries
Uitgewer: Nasionale Pers Bkp.
3. druk. Kaapstad, Bloemfontein, Port Elizabeth, Suid-Afrika 1942
Oorspronklike sagteband, 15 x 20, 57 bladsye

Visser, A. G. im Namibiana-Buchangebot

Uit ons prille jeug

Uit ons prille jeug

Uit ons prille jeug is 'n mooie bloemlesing van geïllustreerde gedigte vir kinders deur A. G. Visser.