Kruidjie roer my, van Antoinette Pienaar

Kruidjie roer my, van Antoinette Pienaar.

Kruidjie roer my, van Antoinette Pienaar.

Kruidjie roer my is nie ’n mediese gids nie maar ’n harts-gids. Alles kom uit Antoinette Pienaar se hart uit. Volg dit en jy sal haar heling ervaar.

Antoinette Pienaar  

Toe die Karoo nog water was

it is in die nag, meestal, dat die stilte van die Groot Karoo jou wakker maak. As die stilte weerklink teen die wit mure van my klein huisie op die koppie, dan staan ek stram op uit my bed, steek die kandelaar met twaalf kerse aan, kyk uit oor die nag en sien verstom hoe die stilte van die sterre afdrup. Dis in hierdie stilte, af en toe onderbreek deur Gys, die reënsprinkaan wat krys oor die reën wat op pad is, dat ek snags woorde uitpak soos klippies, oor hoe dit gekom het dat ek nou al vir sewe jaar bly op Theefontein, hier waar ek die geheime, stories en mites van die Karoo aan die voete van oom Johannes leer. Dis in hierdie stilte dat die groot ysterklippe uit volle bors sing oor die tyd toe die Karoo nog water was, die tyd toe die dorre vaal aarde van klip tot klip geklots het van water en van vreemde visse. Die klippe dra hierdie vae herinnering van water en as jy jou oor teen een van hierdie groot klippe sit, sal jy die hart van die kolos hoor klop soos hy die water onthou. So word jy in die Karoo gebore met die herinnering van water, water wat sterk deur jou are voortstu, en wanneer die stilte jou wakker maak, voel jy die drukking van vervloë water net onder jou hart. Dis in dié sonderlinge stilte dat oom Johannes Willemse se stories een vir een opstaan en hulle voor my afspeel soos 'n ou swart-en-wit film wat krakerig deur die projektor dans en spring. Stories wat hierdie oerlandskap oopslaan soos 'n antieke prentjieboek, terwyl die geitjies nuuskierig teen die muur afloop om te kyk of jy ook die stilte hoor.

Net gister weer, terwyl ek en oom Johannes in die veld loop om kruie te pluk, staan die oom skielik stil langs 'n groot berg-skilpad, bekyk hom aandagtig en sê: "Sonder die skilpaaie sal ons ook nie 'n druppel reën kry nie." Toe ek hom vraend aankyk, gaan hy voort en sê die skilpaaie is die eerste diere wat begin bid as dit droog word. Die bergskilpad sal onder die bos inkruip en daar op sy knieë begin vra vir reën vir die diere en die bossies se wortels, en so sal hy bly bid totdat hy later die verre gedagte van reën op die wind begin ruik. So sal jy my snags hier op Theefontein kry, onder my kandelaar met kerse, bedrup met kerswas party nagte as die wind die vlam woes rondruk, totdat daar waspatrone op my skouers en my kop drup. Jy sal my daar kry, besig om deur my Karoo-prentjieboek te blaai en die stories een vir een soos klippies om te draai en 'n voetpaadjie van herinnering uit te pak, soos Hansie en Grietjie destyds, maar hierdie keer nie uit die bos uit nie, maar dieper in die groot donker bos in, na die misterie van die Groot Karoo.

Voetpaadjies

Ek is in 1960 op Carnarvon gebore, die jaar van die groot vloed, toe die sewejaardroogte gebreek is deur bulderende bruin water wat die vlakte afgedans het see toe. Ek was die middelste een van vyf susters. Op dié ou dorpie was dit die gebruik om by die geboorte van 'n kind 'n blou of 'n pienk vlag te hys, en minute nadat die vlag gehys is, het die nuus soos 'n veldbrand deur die dorp versprei: "Het jy gehoor, Yvonne het toe wragtag nog 'n meisiekind!" Dit was goed bekend op die dorp dat my pa, soos die meeste mans van die kontrei, begeer het om 'n seun te hê. In die harwar van daardie eerste reën in sewe jaar en die rondstaan in die hospitaal oor die twee babas wat daardie dag gebore is, is my vlag toe nooit gehys nie. Jare lank het ek al die vreemde dinge wat met my gebeur het, daaraan toegeskryf dat daar by my geboorte nooit vir my 'n vlag gehys is nie! Twee en veertig jaar later sou ek hier op Theefontein my eie vlag op my eie manier kom hys.

As moeder van vyf dogters het my ma met die geduld van Job en die wysheid van Salomo haar dogters probeer handig maak rondom die huis, breiwerk en borduurwerk en klere maak. Maar die kind sonder 'n vlag het pal by die agterdeur uitgeglip, saggies, sodat die sifdeur nie te hard sou toeslaan nie, en die pad gevat veld toe. Ons het aan die kant van die dorp gebly, sodat die veld ons jaart en ons agterplaas was. Terwyl my voete die harde aarde tot poeierstofvoetpaadjies uitgeloop het veld toe, het my hart ongeduldig en nuuskierig teen my borskas gestamp. Ek kon die oer-polsslag van die Karoo in my bene voel, soos tromslae uit 'n verlore tyd. Ek het ver in die veld op 'n klip gaan sit en met 'n frons op my voorkop hard geluister vir iets wat my meer kon vertel van die Groot Plek waar ek gebore is.

My ma het moedig probeer om my binnenshuis te kry, maar later het sy in haar wysheid my maar laat begaan en as iemand haar vra waar's ek, gelate gesê: "Jong, die kind sit dáár op die vlak." En dis sy wat my geleer het van voetpaadjies, dat elkeen van ons n pad het, jou eie voetpaadjie wat net deur jou eie voetspoor oopgetrap kan word. Dit is sowel ons vingerafdruk as ons voetafdruk wat ons uniek maak. In die Karoo is voetpaadjies die lewensare wat deur die hele vlakte loop soos 'n reuse-spinnerak, spierwit paadjies oor die harde bruin aarde, en op maanligaande loop die voetpaadjies soos 'n mistige spookasem tussen die klippe en die bossies deur. En dis langs die voetpad van die hart waar 'n mens jou drome bêre, soos 'n bergskilpad haar eiers in die grond bêre. (...)

Dit is 'n uittreksel uit die boek: Kruidjie roer my, van Antoinette Pienaar.

Titel: Kruidjie roer my
Subtitel: Die antieke helingskuns van die Karoo-veld
Skryver: Antoinette Pienaar
Uitgewer: Umuzi / Random House Struik
Kaapstad, Suid Afrika 2008
ISBN 9781415200599 / ISBN 978-1-4152-0059-9
Sagteband, 15x23 cm, 143 bladsye, baie fotos

Pienaar, Antoinette im Namibiana-Buchangebot

The Griqua's Apprentice. Ancient healing arts of the Karoo

The Griqua's Apprentice. Ancient healing arts of the Karoo

Enriched with photographs, stories, advice and indices, The Griqua's Apprentice is as much a reference for ancient healing arts of the Karoo as it is a storybook.

Kruidjie roer my. Die antieke helingskuns van die Karoo-veld

Kruidjie roer my. Die antieke helingskuns van die Karoo-veld

Kruidjie roer my - Die antieke helingskuns van die Karoo-veld is nie ’n mediese gids nie maar ’n harts-gids. Alles kom uit Antoinette se hart uit. Volg dit en jy sal haar heling ervaar.

Weitere Buchempfehlungen

Heil-, Gift- und eßbare Pflanzen in Namibia

Heil-, Gift- und eßbare Pflanzen in Namibia

Beschreibung von 600 Heil-, Gift- und eßbare Pflanzen aus Namibia mit 117 ganzseitigen Zeichnungen.

The History of Nursing in Namibia

The History of Nursing in Namibia

Agnes van Dyk has diligently researched the history of nursing in Namibia from 1800 to 1996, and come up with a book which most faily reflects the true events

Das hat man im Blut: Auf den Spuren der Nama

Das hat man im Blut: Auf den Spuren der Nama

Das hat man im Blut ist ein Reisebericht zweier Südafrikanerinnen, die auf den Spuren der Nama, ins Richtersveld reisen.

The Politics of a South African Frontier: The Griqua, the Sotho-Tswana and the Missionaries, 1780–1840

The Politics of a South African Frontier: The Griqua, the Sotho-Tswana and the Missionaries, 1780–1840

The influential study 'The Politics of a South African Frontier' analyses the relationship between the Griqua, the Sotho-Tswana and the Missionaries in the time of 1780–1840.