Geknelde Land, deur F. A. Venter

Geknelde Land, deur F. A. Venter. Protea Boekhuis, Pretoria, Suid-Afrika 2017. ISBN 9781485307273 / ISBN 978-1-4853-0727-3

Geknelde Land, deur F. A. Venter. Protea Boekhuis, Pretoria, Suid-Afrika 2017. ISBN 9781485307273 / ISBN 978-1-4853-0727-3

Die eerste uitgawe van die roman Geknelde Land (F. A. Venter) verskyn in 1960 en word later ook as reeks vir die Suid-Afrikanse televisie verwerk en gebeeldsaai.

DlE SOMERWIND UIT DIE SUIDOOSTE STOOT

Droë wolkies oor Winterberg, oor die Koonaprivier - oor die hele Oosgrens van die Tarka tot aan die see. Dit is 'n droogtewind wat die rooigras teen die steil hange laat bewe, die toppe van olienhout op die plate skaars laat roer en die geelhoutbome in die klowe laat sug. Op Grensplaas, in die Koonapvallei, is die wolkskaduwees deursigtig oor die drie man wat 'n baan deur die knarsryp koring sny. Saam met die skaduwees kom daar 'n swart spikkel aan, byna onsigbaar teen die dynserige bors van Winterberg, net 'n roering teen die hang langs die wildernis van krans en bos waar die Koonap deur die eeue sy baan oopgevreet het. Die sekellemme vlam wit om die stingels. Die wit man is voor. Sy hand vat groot en sy skouers swaai vinniger en kragtiger as dié van sy twee swart metgeselle. Hy jaag deur die halmvak, want die wind is warm - en agter die warm wind lê gewoonlik die reën ... Hy sny nog so, dan is daar niks voor hom nie. Hy kap nog hier en daar 'n los stingel plat, en swaai orent - rysig, soos 'n geelhoutboom wat uit die koring omhoog ruk. "Toe dan, toe dan," terg Rudolf Dreyer die twee swartes wat end toe jaag, "hoe lyk dit dan vir my julle pit is uit? Toe julle nog slawe was, kon julle koring sny, maar noudat julle apprintjies is, het julle saf geword soos die Hotnots van Katrivier. Julle moet sny, my volkies ... Die wind waai van die Amatolas af, ek ruik reën agter Winterberg en ons is nog nie halfpad klaar nie." Julie en Arend slaan hul sekels in die grond vas en maak rug reguit, "Ai," sê Julie, die oudste, "seur Rudolf sny vandag of die duiwel agter hom is." "Die oes is vet," sê Rudolf en waai sy gesig met die breërandstrooihoed koel. "Ons kan nie dat die reën hom kom vermuf nie." Arend kyk op na die driflose wolke. "Die reën is ver," sê hy. "Die lug is droog soos 'n ou koei, die son is nog baas en die wind sê niks - hy waai net, my seur." Rudolf antwoord nie. Hy druk die strooihoed voor sy bors vas en sy oë is nou teen die blink spieëling van die son. Met die nuuskierigheid van die Oosgrensboer kyk hy rusteloos uit die diepte na die kruine op. In die plooiing van klowe, hellings en rugge sien hy net daardie sprankie beweging. Vir Rudolf Dreyer is dit 'n vonk wat deur die wind na Grensplaas aangedryf word. Kan dit 'n os wees, of 'n perd, of 'n trossie voetgangers? Hy weet nie, want dit is nog te ver langs die Koonap op. "Wat kom daar bo langs die Koonap af?" Daar is spanning in sy hand toe hy beduie. Julie en Arend kyk met oë amper toegeknyp van konsentrasie, want hier langs die Koonap, binne die horison van Grensplaas, moet 'n mens 'n vreemde beweging dadelik uitken. "Kan nie sê nie," sê Julie. "Hy's te stadig vir 'n perd en te vinnig vir 'n os." "Dis 'n mak ding," sê Arend. "Hy kom reguit hiernatoe. Dalk baas Fanus wat kom gasie haal." "Baas Fanus sal nie nou kom nie, die ooie lam," antwoord Rudolf. Die "mak ding" gly 'n klofie binne en Rudolf draai om. Hy glimlag toe hy sy mense op die stoppelvlak sien woel. Hulle raap, bondel, bind, dra gerwe, pak hoop en toe hy die gerfhope tel, voel hy dankbaar - en besitlik. "Julle kan maar eers gaan maag sterk maak, my jongs," sê hy en begin deur die stoppels aanstap. [...]

Dit is 'n uittreksel van die roman Geknelde Land, deur F. A. Venter.

Titel: Geknelde Land
Skrywer: F. A. Venter
Genre: Roman
Uitgewer: Protea Boekhuis
Pretoria, Suid-Afrika 2017
ISBN 9781485307273 / ISBN 978-1-4853-0727-3
Sagteband, 14 x 22 cm, 327 bladsye

Venter, F. A. im Namibiana-Buchangebot

Geknelde Land

Geknelde Land

Die Suid-Afrika roman Geknelde land speel op die oosgrens af waar die grensboere en Xhosas teen ongeveer 1834 in oorlog gewikkel is.

Mooi Loop: Bantoe Keurverhale

Mooi Loop: Bantoe Keurverhale

Mooi Loop is 'n rare en versoenende bundel van "Bantoe" keurverhale uit 1955.