Dorp in die Klein Karoo, deur Abraham H. de Vries

Dorp in die Klein Karoo, deur Abraham H. de Vries. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Derde druk. Johannesburg, Suid-Afrika 1973. ISBN 0628000324 / ISBN 0-628-00032-4

Dorp in die Klein Karoo, deur Abraham H. de Vries. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Derde druk. Johannesburg, Suid-Afrika 1973. ISBN 0628000324 / ISBN 0-628-00032-4

Abraham H. de Vries sê in die voorwoord: Ek dra die boek op aan die mense van dié dorp in die Klein Karoo oor wíe ek geskryf het. „Jy moet nog loop sit en 'w boek skryj met al die stories van ons ou klomp hier, maar jy vertel net nie alles nie, hoor ..."

Abraham H. de Vries  

Op pad Sjina toe

Die foetery het gekom toe ons byna al by Sjina was. Voor 'n mens Sjina kry, is daar 'n opdraand en 'n steil afdraand met bome weerskante van die pad en paddastoele waaroor jy nie kan sien nie. My motor was voor en Dawid s'n so 'n klein entjie agter en hy het my gejaag, want net voordat ons weggetrek het vir die laaste skof, het Ma geroep vir tee. Dawid sou rondom die aardbol gery het vir 'n beker tee en 'n sny brood met varkvet en goue stroop. Hoekom ons besluit het om daardie oggend Sjina toe te gaan weet ek nie, alhoewel dit ek is wat dit voorgestel het. Miskien het ek die naam oor die radio gehoor terwyl Pa nuus geluister het, 'n blaaskansie wat hy soggens tussen opstaantyd en ontbyt nooit laat verbygaan het nie. Toe ek buite kom, was Dawid al onder die wildevyeboom en sy hande het gejeuk om die garagedeur onder die skuins wortel oop te maak, maar gelukkig het ek die sleutel gehad, een van my hempsknope wat afgespring het en waarna Ma iot op die dorp, tien myl van ons plaas af, gesoek het. Dit was 'n ysterknoop en sy het nie geweet dis 'n sleutel nie. "Sit op jou kakiehoedjie, Boetie," het Ma gesê toe ek by die sifdeur uitstorm en ek het dit daardie oggend gewilliglik gaan doen, want Sjina toe is ver en langs die pad om die hoek by die melkkamer steek die son soggens om elfuur soos 'n naald agter 'n mens se nek. Dawid was 'n bruin seuntjie wat Pa eendag vir my huis toe gebring het as speelmaat. Dit kan ek noú sê: toentertyd en vandag nog is hy maar net Dawid, 'n bietjie ouer as ek, party dae vol nukke, maar die meeste van die tyd my beskermengel. Die oggend toe ons Sjina toe is, was Dawid in een van sy nukbuie. Ek het dit gesien aan die manier waarop hy staan, so met sy twee groottone na mekaar toe gedraai en sy ken byna op sy bors. "Jy't vir jou ma gesê ek het die knoop," het hy aangeval met die bymekaarkomslag. Daarop het ek nie geantwoord nie, net 'n slag omgekyk kombuis toe en in sy oor gefluister: "Ons gaan Sjina toe!" en die sleutel uit my broeksak uitgehaal. Ek het vir Ma gesê Dawid het die sleutel, maar dis omdat ek geweet het sy sou niks aan hom doen nie. As sy geweet het ek het dit, moes ek weer tot stikdonker op die werf rond loop en soek. Die vooruitsig het Dawid se bui laat afkoel. Ons twee motors het nog daar gestaan waar ons dit die vorige aand gelaat het, vet, rond en blink, want nêrens ter wêreld is sulke groot akkers as by my oom op Barrydale waar ons die vorige Sondag gekuier het nie. Ons het die seile afgetrek, netjies onder die wortel neergesit en 'n ou strykyster voor die opening gestoot. Die garagedeur was weer toe; ons kon ry. [...]

Dit is 'n uittreksel uit die boek Dorp in die Klein Karoo, deur Abraham H. de Vries.

Titel: Dorp in die Klein Karoo
Skrywer: Abraham H. de Vries
Genre: Kortverhale
Uitgewer: Afrikaanse Pers-Boekhandel
Derde druk. Johannesburg, Suid-Afrika 1973
ISBN 0628000324 / ISBN 0-628-00032-4
Oorspronklike hardeband en stofomslag, 13 x 22 cm, 83 bladsye

de Vries, Abraham H. im Namibiana-Buchangebot

Dorp in die Klein Karoo

Dorp in die Klein Karoo

In Dorp in die Klein Karoo die skrywer vertel sy herinneringe aan sy jeug.