Die tale wat ons praat. Taaldinge uit die gewilde radioprogram, deur Danny Fourie, Jana Luther en Fred Pheiffer.

Die tale wat ons praat. Taaldinge uit die gewilde radioprogram, deur Danny Fourie, Jana Luther en Fred Pheiffer. Penguin Random House Suid-Afrika, Penguin Books. Kaapstad, Suid-Afrika 2018. ISBN 9781776092338 / ISBN 978-1-77-609233-8
Die tale wat ons praat. Taaldinge uit die gewilde radioprogram, deur Danny Fourie, Jana Luther en Fred Pheiffer. Wanneer is dit aantal, wanneer getal? Hoe hou ambisie verband met ambulans? Ry ’n mens in ’n baan, of in ’n laan?
Wat is die verskil tussen balhorig en baldadig; belhamels, voorbokke en sondebokke; bulle en ramme, koeie en ooie? Waar kry Afrikaans “berserk” vandaan? Is dit biljoen of miljard? Flagrant? Flambojant? Kritiek of krities? Is knormoer regtig ’n woord? Waar kom die peet in peetouer vandaan? Hoe verskil relikte, relieke en relikwieë? Wanneer tap ’n mens ’n ui? Wat doen jy as jy varkoor gooi? Waar kry volstruis sy naam? Vir jare al, Sondae net ná elf, word al dié vrae en nog baie meer in die RSG-program Die tale wat ons praat beantwoord. Ook word aktuele sake en interessanthede oor Afrikaans bespreek. Van die deelnemers aan die program is taalkundiges, leksikograwe en huidige en oudlede van die SA Akademie se Taalkommissie. In Die tale wat ons praat bring Jana Luther en Fred Pheiffer, saam met Danny Fourie as samesteller, van die gewildste bydraes deur dié luisteraars en taalkenners byeen.
- "blikners"
"Toe die bul hom stamp, trek hy soos 'n vrot vel deur die lug en val hom blikners!" Blikners? In Afrikaans hoor 'n mens dié woord nie meer so dikwels nie. Volgens die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afri-kaanse Taal (die HAT) beteken blikners om op jou sitvlak deurgeskaaf te wees, veral nadat jy bloots op 'n perd gery het, dit wil sê sonder 'n saal. Figuurlik, dui die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT) aan, beteken blikners ook om kapot, byna dood te wees. Die blik-deel kom uit Nederlands, wat in plaas van blïkners, blïkaars gebruik. Volgens van die bronne in die Nederlandse Etymologybank.nl is blik, ook blek> 'n dialektiese woord wat 'kaal' of'ontvel' beteken. Dit kan verwys na 'n stuk land wat bokant water uitsteek, of na iemand se kale agterstewe. Aars is die Nederlandse woord vir anus. Dit word ook gebruik vir die dik, vlesige dele waarop 'n mens sit, jou boude. In Engels, veral in skeltaal, hoor 'n mens dikwels nog die Engelse ekwivalent: "arse". Ners beteken dieselfde as aars> soos in die woord nersderm ('vetderm'):
"Die reuk van gebraaide nersderm."
"Nersderm en roosterkoek."
"Ek skop jou netnou onder die ners", het die WAT opgeteken van 'n spreker uit Albertinia se wêreld.
Ry 'n mens jou dus blikaars, of in Afrikaans blikners op 'n perd, ry jy letterlik die nerf, die boonste laag vel van jou sitvlak af. Jou boude nerf dus af. Soos wanneer jy jou nerfaf val.
Ook in aarsel - om te huiwer, te weifel; om onseker, besluiteloos te wees; Nederlands: aarzelen - vind ons in Afrikaans die Nederlandse aars nog terug. Aanvanklik (in 1327), so verduidelik Gerhard van Wyk in die WAT se Etimologiewoordeboek van Afrikaans, het aarsel verwys na die agterstewe (die aars) van 'n steeks trekdier wat terugbeur, terugsteier, soos 'n perd wat voor 'n watervoor vassteek en botweg weier om oor te spring.
- "boemel"
Boemel beteken om rus-rus rond te gaan, soos 'n boemelaar. In Afrikaans het ons ook die uitdrukking "met die boemeltrein reis", wat beteken om langsaam te vorder, om oral langs die pad te stop. In Suid-Afrika was daar in die verlede, veral op syroetes, ook werklike boemeltreine, soos "ou Makadas". Makadas was die naam van die stoomtrein wat van 1925 tot 1981 deur die Klein-Karoo heen en weer tussen Touwsrivier en Ladismith gery het. [...]
Hierdie is 'n uittreksel uit Die tale wat ons praat. Taaldinge uit die gewilde radioprogram, deur Danny Fourie, Jana Luther en Fred Pheiffer.
Titel: Die tale wat ons praat
Ondertitel: Taaldinge uit die gewilde radioprogram
Samesteller: Danny Fourie
Redakteurs: Jana Luther; Fred Pheiffer
Uitgewer: Penguin Random House Suid-Afrika
Druknaam: Penguin Books
Kaapstad, Suid-Afrika 2018
ISBN 9781776092338 / ISBN 978-1-77-609233-8
Sagteband, 15 x 24 cm, 20 0bladsye
Fourie, Danny und Luther, Jana und Pheiffer, Fred im Namibiana-Buchangebot
Die tale wat ons praat. Taaldinge uit die gewilde radioprogram
Die tale wat ons praat. Taaldinge uit die gewilde radioprogram, vir almal wat lief is vir Afrikaans!
