Die alibi klub, deur Jaco Van Schalkwyk
Jaco van Schalkwyk se roman, Die Alibi Klub, is fiksie. Behalwe vir bekende gegewens, name en plekke, is karakters, name, organisasies, plekke en gebeure gefiksionaliseer.
Almal het 'n nommer. Nommers staan tou in 'n saal. Daar is 'n tou vir Citizens en 'n tou vir Visas. Citizens word van Visas geskei. Citizens word prioritise. Visas versuur onder bleek ligte. Almal raak desperaat. Almal moet deur Immigration en Customs. Visas is bereid om te wag. Ons syfer verby nare skreeuende uniforms. Ons krimp langs hul vuurwapens en honde. Hulle skree ons moet ons paspoorte omhoog hou. Hulle skree ons moet dit by die bladsy met ons visas oop hê, gereed om te wys. Hulle herhaal ons moet vorentoe staan wanneer dit ons beurt is. 'n Toonbank sal aan ons toegeken word. Ons moet ons nommer gereed hou. Ek het 'n nommer. My nommer is A98 108 755. Ek het gesertifiseerde dokumente wat bewys dat ek ingeënt is teen hepatitis a en b, influensa, polio, tetanus, rubella, masels en rotavirus. Ek dra bewyse dat ek 'n goeie nommer is, dat ek 'n nommer met genoeg geld is, dat ek 'n nommer is wat weet waarheen hy op pad is. 'n Uniform agter 'n lessenaar roep my nader. Hy dra nie 'n geweer of'n pistool nie. Ek groet hom. Hy sê niks. A98 108 755. My vingerafdrukke verskyn op sy skerm. Sy stelsel weet waar ek skoolgegaan het, wie my ma en pa is. Hy het hulle nommers ook. Hy lyk moeg. Ongeveer 35 000 mense werk by jfk. jfk is 'n lughawe. Ek kry 'n rooi stempel: "You can move on to Customs." Tussen Immigration en Customs is Baggage Claim. Baggage Claim is donker. Daar is een toilet. Dit stink. Geute wyer as deurkosyne saai bagasie oor vervoerbande wat om olie gil. Een van hulle staan afgekamp met heldergeel pilare van rubber en plastiek, enjinkap oop, bloed uit, ligte af, lankal vrek en onbruikbaar. 'n Tang en 'n toolbox lê on-aangeraak, moontlik vergete, tussen plasse op die vloer. Niemand durf hier iets steel nie. Customs se brakke ruik en sien alles. 'n Vrou in 'n high-visibility jacket moet plasse aircon-piss opmop. Sy kies om liewers die toilet te gebruik. Ek staan oopbek en kyk hoe my rugsak deur 'n geut uit die plafon tuimel. Ek tel drie, moontlik vier knalle tussen pla-fon en vervoerband. Dit is elke tas vir homself. Die res van my bagasie verskyn. Customs wag aan die einde van die lokaal. Hulle lyk makliker as Immigration. Dik aksente leun terug om lekker-der te gesels oor gisteraand se sport op tv. Hulle samel United States Customs Declaration Forms, biltong en 1995 Kanonkop-cabernet sauvignon in. Agter Customs is 'n muur. Dit is 'n hoë muur, maar dun genoeg dat jy die buitewêreld daardeur kan hoor. Daar is geen aanwysings van hoe om verby die muur te kom nie. Dit is koud teen die muur. Buite wag 'n winter wat ek nie ken nie. My nek jeuk. Ek volg die koue totdat ek op die uitgang afkom. Daglig verskyn. Amerika brandmerk my. Die Arrivals Hall is nie vol mense wat passasiers inwag nie. Daar is nie families wat hulle mense probeer uitken nie. Daar is nie ooms en tannies en ma's en pa's en boeties en sussies en oumas en oupas nie. Daar is net besige mense. Niemand het genoeg tyd om te stop nie. Dit is vroegoggend en ek voel anoniem en vry. Ek volg die gevoel deur koffiereuke en die geur van suikergebak, chauffeurs met naamborde, skoonmakers, en die klank van kontant. New York se winter verken my wange. Busdrywers staan en rook. [...]
Dit is 'n uittrecksel van die roman Die alibi klub, deur Jaco Van Schalkwyk.
Titel: Die alibi klub
Skryver: Jaco Van Schalkwyk
Genre: Roman
Uitgewer: Random House Struik; Umuzi
Kapstad, Suid-Afrika 2014
ISBN 9781415207000 / ISBN 978-1-4152-0700-0
Hardeband, stofomslag, 14 x 21 cm, 192 bladsye
van Schalkwyk, Jaco im Namibiana-Buchangebot
Die Alibi Klub
Die Alibi Klub is 'n unieke roman oor 'n tydperk in die lewe van 'n groep individue, 'n woonbuurt en 'n stad wat onherroeplik verander het.