Alfabet van die Voëls, deur S. J. Naudé

Alfabet van die Voëls, deur S. J. Naudé. Umuzi; Random House Struik; Kaapstad, Suid Afrika 2011; ISBN 9781415201459; ISBN 978-1-4152-0145-9

Alfabet van die Voëls, deur S. J. Naudé. Umuzi; Random House Struik; Kaapstad, Suid Afrika 2011; ISBN 9781415201459; ISBN 978-1-4152-0145-9

S. J. Naudé sy verhale in Alfabet van die Voëls is oor ontheemding, terugkeer, die saamleef met verlies. In die storie “Die mobile” raak ’n vrou, self sterwend aan kanker, obsessief betrokke by die lot van vigslyers, verwaarloos alle verhoudings met geliefdes, en skaar haar, in haar verbete stryd teen korrupte en ellendige amptenare, by die geledere van die dooies.

S. J. Naudé  

Die mobile

Sandrien is die enigste wit vrou in Bella Gardens. Sy is trouens die enigste wit mens in die dorp. "An establishment for the accommodation of women travellers," lui Bella Gardens se webbladsy. "The most luxuriant home for females," lui die brosjure in die skemer voorhuis. 'n Mens sou dit straks kon aansien vir 'n oord vir ongehude moeders. Haar hospita is Mrs Edith Nyathi, wat haarself voorstel as weduwee en afgetrede matrone van Frere-hospitaal. Sy raak nooit uitgepraat oor haar "second life" nie. Haar wenkbroue lig en haar kop knik vorentoe wanneer sy die frase uitspreek. Die gastehuis is haar aftredebelegging, vertel sy, "my little egg". Sy huur genoeg huiswerkers sodat sy bedags breedbeen op die stoep met 'n sigaret kan ontspan; laataand soms met 'n sigaar. Mrs Nyathi verhef nie haar stem nie. In haar diens is daar 'n falanks bedeesde dorpsmeisies wat regstaan om knetterende Engelse ontbyte te braai of baddens en plankvloere tot 'n hoë glans te poleer. Wanneer sy na een van haar meisies roep, is dit in dieselfde koerstem as dié waarmee sy haar gaste aanspreek. Vanaf die kliphuis se koloniale stoep het 'n mens 'n uitsig oor die dorp. Behalwe vir die kollege bo teen die hang, is die gastehuis die deftigste gebou in Vloedspruit. Bedenklike sinkhuise is oral teen hellings staangemaak. Tussenin is Basotho-styl rondawels met grasdakke. Laer af, waar dit saans kouer is en waarheen die vullis afspoel, is rye regeringshuise van sement-steen. Party het aanbouings van sink. Sommige het kleigesmeerde ron-dawels in die agterplaas. 'n Dorp van pondokke, kaias en strooise, dink Sandrien. Só sou haar ma dit beskryf het, maar dis woorde uit 'n ander tyd. Soggens stap Sandrien bultop na die provinsiale gesondheidsdepartement se opleidingskollege. Sy woon 'n verfrissingskursus by, ses weke lank, om plattelandse verpleegsters voor te berei op "the major challenges in primary health care today". Our Health Revolution is die titel van hul pasge-drukte handboek, laggende gesigte van verskillende rasse op die voor-blad. Die klasse begin om nege. Om elf is daar tee en toebroodjies; om eenuur 'n volle twee uur vir middagete. Tussenin pas hulle sessies in oor alles van inentings tot Papsmere tot die fisiologiese effek van verskillende klasse antiretrovirale middels. "Is dit alles vir ons?" vra Sandrien die jonger vrou langs haar. Haar mond hang oop toe sy die eerste maal die middagete sien wat die kollege vir studente en personeel voorsit. Stampmielies, stywepap, rys, drie soorte groente, drie soorte vleis. Diep, stomende potte. "We have to eat, meisie," antwoord die vrou en pomp Sandrien met die elmboog sodat haar oorbelle klingel. "Lerato," stel die honger vrou haar voor en knyp 'n ekstra blikkie Coke onder haar arm vas, "ek's 'n nurse van die Vrystaat." Die eerste paar dae het Sandrien op haar eie op die trappe gesit. Sy het eers haar kos met 'n lepel geëet, later soos die ander haar hande ingespan. Waarom nie? Die derde dag kom Lerato by haar sit. "You white girls don't get very hungry, do you?" Buite die omheining staan 'n paar kinders met snotspore en toekyk. Toe Sandrien van haar kos vir die kinders deur die heining aangee, klap Lerato haar tong: "Stop that!" - "Maar kyk na hulle! Hulle is verhonger." - "Wag jy maar net. Móre is die hele dorp se kinders hier." Lerato wys na die heining. "Just behind that fence, all of them. Tomorrow." (...)

Dis 'n uittreksel uit die boek: Alfabet van die Voëls, deur S. J. Naudé.

Titel: Alfabet van die Voëls
Skryver: S. J. Naudé
Typ: Roman
Uitgewer: Umuzi; Random House Struik
Kaapstad, Suid Afrika 2011
ISBN 9781415201459; ISBN 978-1-4152-0145-9
Sagteband, 14x22 cm, 240 bladsye

Naudé, S. J. im Namibiana-Buchangebot

Alfabet van die Voëls

Alfabet van die Voëls

Alfabet van die Voëls is wyd leesbaar met prikkelende stories, ideeryk met nuwe ruimtes, gebeure en karakters.

Weitere Buchempfehlungen

Oulap se blou

Oulap se blou

Die stories, veertig kort vertellings, in Oulap se blou is reise: na plekke, na tye her, na mense, na binne.

Die Doelgerigte Lewe

Die Doelgerigte Lewe

Die doelgerigte lewe sal jou na grootsheid lei omdat jy volgens die Groot Gebod en die Groot Opdrag leef.

'n Ander ek

'n Ander ek

'n Ander ek is 'n boeiende verhaal van hoop en vasberandenheid van 'n skrywer wat weet hoe om karakters roerend en geloofwaardig uit te beeld.

Emma en Nella

Emma en Nella

Emma en Nella is EKM Dido se sesde roman. Die verhaal het oorspronklik as ’n baie gewilde vervolgverhaal in Die Burger verskyn.