I-Tjieng: 'n GPS vir verdwaalde siele

In i-Tjieng praat die wysheid jou taal en is jou “GPS vir verdwaalde siele”.
Kombuis, Koos
26228
978-0-14-353846-2
sofort lieferbar
neu
19,95 € *

Titel: I-Tjieng
Subtitel: 'n GPS vir verdwaalde siele
Skryver: Koos Kombuis
Uitgewer: The Penguin Group (South Africa)
Kaapstad, Suid-Afrika 2013
ISBN 9780143538462 / ISBN 978-0-14-353846-2
Sagteband, 15 x 23 cm, 166 bladsye, enige illustrasies

Beskrywing:

Ek het in die sewentigerjare vir die eerste keer met die i-Tjieng te doen gekry. In daardie stadium was ek 'n ernstige en baie verwarde jong soeker na "die waarheid". My lewe was in 'n doodloopstraat. My menseverhoudings was aan flarde. Ek was werkloos, brandarm en woedend vir die hele wêreld. Toe leen iemand vir my hierdie allemintige dik boek. Ek het dit begin lees, maar aanvanklik baie min daarvan verstaan. Die í Ching, of i-Tjieng, soos ek daarna verwys, het aanvanklik vir my gelyk na 'n soort fortuinvertellery iets soos die Tarot-stelsel, maar selfs meer esoteries. 'n Paartie-truuk wat gebruik kon word om girls te impress of 'n manier om ongemaklike besluite oor te laat aan die toevallige val van 'n muntstuk. Later sou ek besef dat die i-Tjieng veel meer behels. Dit kan nie ingeperk word tot iets wat hoort by die okkultisme, spiritualisme of fatalisme nie.

Veel eerder eggo die i-Tjieng waarhede wat ook gevind kan word in die Bybel en ander gelowe, ou sowel as moderne filosofieë, Griekse mitologie, die werke van skrywers en digters en sommer net in die plein common sense en menslike intuïsie waaroor ons almal (behoort te) beskik. Dit sou 'n oordrywing wees om te sê dat die i-Tjieng oornag my lewe verander het. Dit was nie asof stemme uit die hemel weerklink het en bliksemstrale my einder verlig het nie. Maar ek het wel agtergekom dat, elke keer nadat ek die i-Tjieng geraadpleeg het oor die groot vrae van die lewe, ek slimmer en rustiger gevoel het. 'n Gesprek met die i-Tjieng was soos 'n gesprek met 'n goeie sielkundige. Die antwoorde wat ek gekry het, was weliswaar nie altyd dit wat ek verwag het of graag wou hoor nie, maar dit het my elke keer so 'n klein bietjie nader gebring aan die waarheid, aan dit wat werklik belangrik is.

In plaas daarvan om my al dieper in te trek in 'n afhanklike en kompulsiewe verhouding, het die i-Tjieng telkens my aandag teruggefokus na die werklikheid en die wêreld daarbuite, die groot en belangrike speelveld van persoonlike keuses en verantwoordelikhede. Hoewel ek nou al langer as dertig jaar lank vertroud is met hierdie boek, is dit vir my onmoontlik om te verduidelik presies wat die i-Tjieng is, hoe dit werk, en wat die proses is wat in werking gestel word die oomblik wanneer jy deur die bladsye begin blaai. Dit is 'n proses wat jy self moet ervaar. Elkeen wat met die regte benadering sy hart oopmaak vir hierdie skatkis vol wyshede, vertrek op sy eie reis die onbekende in. Die i-Tjieng is as 't ware 'n GPS vir verdwaalde siele, 'n padkaart wat al die verskillende roetes van die lewe uitlê.