Rooi Jan Alleman, deur Francois Loots

Rooi Jan Alleman, deur Francois Loots. Penguin Random House South Africa (Umuzi). Kaapstad, Suid-Afrika 2013. ISBN 9781415202036 / ISBN 978-1-4152-0203-6

Rooi Jan Alleman, deur Francois Loots. Penguin Random House South Africa (Umuzi). Kaapstad, Suid-Afrika 2013. ISBN 9781415202036 / ISBN 978-1-4152-0203-6

In hierdie roman, Rooi Jan Alleman, skryf François Loots ’n kreatiewe, fiktiewe weergawe van Afrikaner-kommunis en struggle-held Bram Fischer se lewe.

François Loots  

DOUGLAS BL

'n Stoomtrein se fluitjie blaas. Skaars het jy hom gehoor, of die trein se wiele begin rol en die rooi vlag op die lokomotief wapper. Kort voor lank snel die trein teen 'n verbysterende spoed voort. Om draaie, deur 'n tonnel, oor wye, oop vlaktes, oor geil grond en bloedgrond. 'n Helling wag die trein in, maar hy klim met gemak daarteen uit. Waar die spore op 'n plato uitloop, wei 'n trop kwaggas. Hulle kyk die trein ;n oomblik lank aan voordat hulle reageer. Bondels spiere wat onder gestreepte swart-en-wit huide saam-trek, die krag van voorbene en agterstewe wat vorentoe beur en lang hale gee. 'n Trop wat sekuur en flink trap en versprei. Maar Douglas Black sit rustig in 'n leunstoel. Sy oog vang sy spieëlbeeld en hy glimlag genoeglik. 'n Trein. Daar is altyd 'n trein wat stoom en sy fluitjie blaas en die vlaktes, die hellings, selfs die bergpasse inpalm, maar die wiele bly afval. Die een na die ander. Teen 'n opdraand uit en as jy weer sien, het een afgeval. Selfs hier op die oop vlakte bly hulle uitglip. Dan begin jy maar net van voor af. Douglas Black sug. Altyd weer van voor af. Tog staan hy moedig op en loop stadig deur die huis. Dis karig ingerig en heelwat kleiner as die ene wat hy gewoond is. Hier is net een slaapkamer, met sit- en eetkamer aaneen. 'n Ronde eettafel en 'n sitkamerstel met 'n bank waarop Oom Paul kan slaap, sou hy hoegenaamd slaap. 'n Kombuisie. 'n Tafel met vier stoele, maar Oom Paul en Jopie is nie juis die tipe wat kom aansit nie. Daar is 'n opwaskamer ook, maar dié vertrek se venster is met 'n swart doek bedek en die basiese gereedskap vir 'n fotograaf se donkerkamer is halfpad uitgepak. As hy alles uitpak, installeer en die nodige chemikalieë aanskaf, sal hy inderdaad Douglas Black, die fotograaf, kan wees. Vir 'n oomblik stel hy hom dit alles voor. Mense wat in die gang wag, sy ateljee in die sit- en eetkamer. Kliek, kliek, die een portret na die ander. Eunice, verbeel hy hom, 'n huishulp wat verder af in die straat werk. Sy verdien skaars genoeg om haar twee kinders aan die lewe te hou, maar het geld gespaar en die kinders saamgebring. 'n Foto vir haar ouers wat ver weg woon. En dan, oorweeg hy 'n oomblik, Marinus, 'n mynwerker van Fordsburg. Hy het onlangs van die eksklusiewe wit vakbond af oorgeloop na die een wat daarop aanspraak maak om veelrassig te wees. Al voel hy as die eerste maar enigste wit lid van sy nuwe vakbond effens verlore, is hy trots op sy besluit en wil 'n foto van hom laat neem. Kyk, hier is ek, so lyk ek. Douglas Black glimlag. En dan, hoekom nie 'n foto van Jopie nie? Jopie wat poseer met sy roer in die hand en 'n trotse blik na die horison. Douglas Black grinnik binnensmonds. Hy sal die eerste fotograaf wees wat spoke op kamera vasvang. Die materialisme nieteenstaande. Pure dagdrome! Dit kom daarvan as jy jou beroep, eintlik jou hele lewe, moes opgee en soms te veel tyd op hande het. Hy draai van die opwaskamer af weg en kyk op sy horlosie; hy sal wel binnekort op pad wees. Rusteloos loop hy deur die huis. Kyk hoe klein sy wêreld geword het. In die slaapkamer vang sy oog weer sy spieëlbeeld. Is dit ek? Sy hare is nou korter en donkerder. [...]

Dit is 'n uittrecksel van die roman Rooi Jan Alleman, deur Francois Loots.

Titel: Rooi Jan Alleman
Skryver: Francois Loots
Genre: Roman
Uitgewer: Penguin Random House South Africa (Umuzi)
Kaapstad, Suid-Afrika 2013
ISBN 9781415202036 / ISBN 978-1-4152-0203-6
Sagteband, 13 x 21 cm, 288 bladsye, Afrikaans

Loots, Francois im Namibiana-Buchangebot

Rooi Jan Alleman

Rooi Jan Alleman

Rooi Jan Alleman is ’n fiktiewe weergawe van die Suid-Afrikaanse kommunis Bram Fischer se lewe.

In sneeu geskryf

In sneeu geskryf

François Loots lewer met In sneeu geskryf weer ‘n belangrike roman, juis in ‘n tyd dat die gaydebat voortgesit word.

Die Jakkalsdans

Die Jakkalsdans

Die Jakkalsdans is die derde roman van François Loots.