Patrisiërs & prinse. Die Europese samelewing en die stigting van 'n kolonie aan die Kaap 1919-1715, van Karel Schoemann.

Patrisiërs & prinse. Die Europese samelewing en die stigting van 'n kolonie aan die Kaap 1919-1715, van Karel Schoemann.

Patrisiërs & prinse. Die Europese samelewing en die stigting van 'n kolonie aan die Kaap 1919-1715, van Karel Schoemann.

Karel Schoemann skryf in die inleiding tot sy boek Patrisiërs & prinse. Die Europese samelewing en die stigting van 'n kolonie aan die Kaap 1919-1715:

Karel Schoeman  

Kolonie aan die Kaap: Toe ek enkele jare gelede die tweedelige Armosyn van die Kaap geskryf het, was die tydperk wat ek sodoende verken het vir my nuut: alles was ewe interessant, en alles wou ek graag met die potensiële leser deel. Die resultaat was 'n wydlopige oorsig van ensiklopediese aard waarin die afsonderlike gegewens en anekdotes deur gebrek aan doelgerigtheid 'n deel van hul waarde verloor. Ook het ek nie altyd die betekenis van die inligting waaroor ekbeskik, besef nie, en kon ek dit gevolglik nie altyd na behore plaas of vertolk nie. Die vyfdelige Kolonie aan die Kaap wat hiermee ingelei word, en wat dieselfde tydperk en terrein dek, is egter nie soseer bedoel om sy voorganger te vervang nie as om dit aan te vul deur die gegewens met 'n nuwe oog te bekyk en nuwe vrae aan die beskikbare bronne te stel, en daarby in teks wat nie as 'n versameling interessante historiese feite aangebied word nie, maar as deurlopende verhaal. Onder die VOC het daar aan die Kaap binne 'n honderd jaar 'n kenmerkende koloniale lewenstyl ontwikkel wat teen die einde van die Kompanjiestyd, in die tweede helfte van die agttiende eeu, sy hoogtepunt bereik het in die vorm van wat algemeen die 'Kaaps-Hollandse' of Kaapse Barokstyl genoem word.

Die koloniale lewenstyl was wesenlik die styl van die blanke inwoners, soos dit hier oor meerdere generasies aangepas is by plaaslike omstandighede. Wat meer spesifiek die 'Kaapse Barok' betref, die styl wat vir die gemiddelde leser waarskynlik saamgevat word in die begrip 'Groot Constantia', is dit my mening dat dit ontwikkel het onder en bevorder is deur 'n klein groepie meer gegoede vryburgers wat ek hier die 'Kaapse élite' noem. Dit was, glo ek, in groot mate hulle poging om die lewenstyl van die hoër amptenare aan die Kaap in plaaslike terme na te boots, wat op sy beurt weer 'n amalgaam was van gebruike en instellings wat enersyds uit die Ooste oorgeneem is en andersyds ingevoer is uit Noord-Europa.

Dit is n komplekse tema waaroor daar min regstreekse inligting bestaan, en ek kan nouliks daarop aanspraak maak dat ek reg daaraan laat geskied het, veral daar ek geen opleiding het vir hierdie tipe ondersoek nie en my bowendien oorwegend moes beperk tot die bronne wat in druk of oor die Internet beskikbaar is. Hierdie boek het dan ook geen pretensies om 'n gesaghebbende of wetenskaplike uitspraak of oordeel te wees nie, maar moet eerder gesien word as 'n poging om 'n gesprek oor hierdie interessante onderwerp aan die gang te kry: 'n aanduiding van die aard van die bronne wat beskikbaar is of wat gesoek sou kan word, en van die vrae wat daaraan gestel en die tipe inligting wat daaruit verwag kan word - 'n wegwyser, met ander woorde, vir latere navorsers; of so wil ek in elk geval hoop.

Terwyl die Kaap in hierdie boek sentraal staan, is dit egter nie sonder meer die onderwerp daarvan nie. Eerder was dit my bedoeling om die eerste vyftig of sestig jaar van blanke vestiging te plaas in die konteks van sy tyd en dit te anker in die eietydse ontwikkelings in Europa sowel as die handelswêreld van die VOC. Soos Koestler in 'n ander konteks geskryf het: A physician has recently said that "the organism in its totality is as essential to an explanation of its elements as its elements are to an explanation of the organism". This is as true when we talk about the suprarenal gland as it is when we talk of the elements of a culture - Byzantine art, or medieval cosmology, or utilitarian ethics/* Ook die destydse nedersetting aan die Kaap, sowel as die meerrassige moderne staat wat daaruit ontwikkel het, kan nie begryp word sonder om hulle as deel van 'n groter geheel te sien nie.

Om iets te verstaan van die mense wat in die sewentiende eeu in diens van die VOC aan die Kaap beland het, was dit in eerste instansie nodig om nie net iets oor die sewentiende-eeuse Nederland uit te vind nie, maar ewe goed oor die onmiddellik aangrensende gebied, die Duitstalige agterland, die kuste van die Noord- en die Oossee en Skandinawië waar hy soveel duisende van sy werknemers gevind het. Waar dit meer spesifiek gaan oor kwessies van lewenstyl en kultuur is dit verder egter nodig om te onthou dat Europa in die sewentiende eeu, die eeu wat hier ter sprake is, oorheers is deur Frankryk, en bowenal deur die hof van Lodewyk XIV. Dit was basies die Franse lewenstyl wat aan die stadhouderlike hof in Den Haag nagevolg is, en so ook, met alle nodige aanpassings, deur lede van die Nederlandse stads-patrisiaat en die senior amptenare van die VOC wat grotendeels uit hul geledere afkomstig was.

Dit was hierdie lewenstyl wat uitgedra is na Batavia en ander sentrums van Nederlandse gesag in die Ooste, om daar onder die senior amptenary verdere veranderings en aanpassings te ondergaan, en mettertyd ook na die Kaap; en toe daar omstreeks die sewentigerjare 'n klein groepie meer gegoedes onder die Kaapse vryburgers te voorskyn tree, die 'elite' wat ek reeds genoem het, was dit die sosiale en kulturele model wat hulle vanself sprekend nagevolg het.

Dog aangesien die Kaap naas Europa ook in regstreekse verbinding met sowel Batavia as Colombo gestaan het en deur Oosterse invoerprodukte, gebruike en instellings beïnvloed is op 'n manier wat in die huidige Suid-Afrika haas onvoor-stelbaar is, was dit ten slotte ewe goed nodig om iets agter te kom oor die koloniale kultuur van die VOC in die Ooste. So loop die pad van my betoog uiteindelik dus vanaf Versailles oor Amsterdam en Batavia na die Tafelvallei en die valleie van die Liesbeek en Eersterivier, en is die eerste twee dele van hierdie vyf delige werk onderskeidelik aan Europa en die Ooste gewy.

Met die skryf van hierdie boek het ek, soos in die geval van Armosyn van die Kaap, hoof saaklik van sekondêre en gepubliseerde primêre bronne gebruik gemaak en slegs insidenteel van ongepubliseerde materiaal. Ten behoewe van toekomstige navorsers het ek die bronne van inligting oor spesifieke onderwerpe wat ek teëgekom het telkens volledig in die endnote weergegee, maar dit is nie as volledige bronne-opgawes bedoel nie en sal dikwels dus 'n onsamehangende indruk maak. Aangesien die visuele materiaal oor die Kaap vir die sewentiende eeu uiters beperk is en in die meeste gevalle reeds oorbekend, het ek hier soos ook in 'n aantal vorige boeke 'n aanduiding van die tyd probeer gee deur vir die illustrasies van eietydse nie-Kaapse materiaal gebruik te maak. Ten slotte wil ek by voeg dat hierdie inleiding en die bedankings wat volg, bedoel is om die hele vyfdelige werk te dek, en nie in elke afsonderlike deel herhaal sal word nie.

Inhoud van Patrisiërs & prinse:

1. Nederland: die opkoms van die Republiek (1619-1651)
2. Nederland: die opbloei van die Republiek (1619-1651)
3. Frankryk: die Sonkoning (1661-1715)
4. Nederland: die hoogtepunt (1660-1698)
5. Nederland: die patrisiërs (1619-1698)
6. Nederland: die versamelaars (1619-1698)
7. Europa: die Middeleeuse erfenis (1619-1715)
8. Europa:die breukvlak (1619-1715)
Endnote
Bronne
Bronne van Illustrasies
Register

Dit is 'n uittreksel uit die boek: Patrisiërs & prinse. Die Europese samelewing en die stigting van 'n kolonie aan die Kaap 1919-1715, van Karel Schoemann.

Titel: Patrisiërs & prinse
Subtitel: Die Europese samelewing en die stigting van 'n kolonie aan die Kaap 1919-1715
Skryver: Karel Schoemann
Uitgewer: Protea Boekhuis
Pretoria, 2008
ISBN: 9781869191573
Hardeband, 18x25 cm, 436 bladsye, Afrikaans

Weitere Buchempfehlungen

Early Slavery at the Cape of Good Hope

Early Slavery at the Cape of Good Hope

Early Slavery at the Cape of Good Hope describes the transplanting of slavery from the Dutch colonies and its development under local conditions in South Africa.

Seven Khoi Lives: Cape Biographies of the Seventeenth Century

Seven Khoi Lives: Cape Biographies of the Seventeenth Century

Seven Khoi Lives Cape Biographies of the Seventeenth Century reports from a time when the Khoikhoi tried to find a way of co-operating with the Europeans.