Oulap se blou, van Chris Barnard

Oulap se blou. Veertig kort vertellings , van Chris Barnard.

Oulap se blou. Veertig kort vertellings , van Chris Barnard.

In hul skone eenvoud soek hierdie veertig kort vertellings uit Chris Barnard sy boek Oulap se blou, die plekke op waar lag en verlange naaste bure is.

Chris Barnard  

Uit: Rooikoos hardloop die myl

Rooikoos se pa was 'n sukkelaar. Sy lappie grond kon skaars genoeg oplewer om 'n gesin aan die lewe te hou en boonop was hy nie 'n boer wat vir sy flinkheid geken is nie. Maar ongeletterde mense sukkel om te tel en dis dalk dié dat hy later met sewe kinders gesit het. Omdat Rooikoos die oudste seun was, moes hy van vroeg af op die lande help. Smiddae ná skool wanneer ons met die boeke sit, was hy aan 't skofFel en natlei en bome snoei en kraalmis inry. Hy was drie jaar ouer as ek en soggens in die skoolbus het ek altyd langs hom gesit terwyl hy huiswerk doen en dan ruik ek hoe ruik sy lyf: na vanoggend voordag se vars kraalmis en melk. Baie keer, smiddae laat, wanneer ek 'n klop aan die agterdeur hoor, dan weet ek dis Rooikoos of een van sy sussies wat kom sê Ma vra of sy 'n skotteltjie meel kan leen, Antie, 'n koppietjie suiker, Antie, 'n bietjie suurdeeg, Antie. Rooikoos het nooit gekla nie. Saterdagmiddae kon hy sy eie ding doen. Dan het ons met die honde in die veld gaan loop en likkewane gejag, voëleiers bymekaargemaak, bessies geëet, in die rivier geswem. Hy sou nooit 'n woord sê oor sy pa wat heeldag op die stoep sit nie. Behalwe skoolwerk kon hy als beter doen as ek. Hy was klein vir sy ouderdom, maar hy kon 'n klip verder gooi as ek; hy kon vinniger swem; hy kon enige boom tot in sy kruin klim; hy sou twintig klippies optel en negentien vir my gee om 'n mispel op vyftien tree af te skiet - en wanneer my negentien klaar weggeskiet is en die mispel hang nog, dan vat hy die laaste klippie en zwieng en weg is die mispel. Ek weet nie wat dit van Rooikoos was nie, maar almal het van hom gehou. Op skool ook. Selfs die onderwysers wat hom so deur die een standerd na die ander moes dra. Was dit oor hy die myl so goed gehardloop het? Hy het nooit smiddae kon oefen nie, want hy moes werk. Dan sê Skallas, die atletiekafrigter: "Koos, as jy hierdie seisoen nie kom oefen nie, dan hardloop jy g'n tree vir my span nie." Dan kom die atletiekdag en Rooikoos het nie kom oefen nie, dan sit hy in die paviljoen. Maar daar was altyd iemand wat ou Skallas omgepraat het. As dit nie die prinsipaal was nie, dan was dit die ander onderwysers of ons spul plaaskinders wat wéét van Rooikoos. Die ouens staan al in die bane dan gee ou Skallas bes en hy roep in die paviljoen in: "Koos, nikswerd, kom hol - maar dis die lááste keer, hoor jy my?" Dan hol Rooikoos. Vier keer om die baan. Hier in die eerste ronde hol hy lappies. Hy het so 'n lui manier van draf gehad wat jou laat dink hy wil nie regtig nie. So 'n stadige, egalige pas. En hy kyk net voor hom op die grond. Amper asof hy wil sê: hol maar solank, ek sal kom. Dan word ons mal daar op die paviljoen - almal van ons wat weet van sy stil ma met die goitre en die erd-af lampetbeker waarmee sy heeldag varings natgooi op die stoep. Ons skree vir Rooikoos, want ons is bang hy raak te ver agter. Ons weet van sy pa wat nie kan lees of skryf nie en dan alles wat hy nie verstaan nie wil reg foeter. Ons weet van die stampmielies elke aand en sy suster se asma en die winkel se lorrie wat hulle slaapkamer-stel kom terugvat het. Ons weet van die ou tweedehandse fiets wat Rooikoos op die kerkbasaar met skyfskiet gewen het en wat sy pa verkwansel het om vir homself'n paar stewels te koop. En ons skree vir hom, want ons wil hê hy moet die wêreld wys. Die bondel kom om die baan en voor die paviljoen verby en die mooi matriekmeisies met die kort rokkies skree vir Lourens Malan, want hy's rugbykaptein en sy pa het twee plase. En Rooikoos is nog altyd lappies en hy waai vir ons. […]

Dit is 'n uittreksel uit die boek: Oulap se blou, van Chris Barnard.

Titel: Oulap se blou
Subtitel: Veertig kort vertellings
Skryver: Chris Barnard
Uitgewer: Umuzi / Random House Struik
Kaapstad, Suid Afrika 2000
ISBN 9781415200667 / ISBN 978-1-4152-0066-7
Sagteband, 15x22 cm, 140 bladsye

Barnard, Chris im Namibiana-Buchangebot

Oulap se blou

Oulap se blou

Die stories, veertig kort vertellings, in Oulap se blou is reise: na plekke, na tye her, na mense, na binne.

Weitere Buchempfehlungen

Swartland: Ein Kapstadt Roman

Swartland: Ein Kapstadt Roman

Swartland: Ein Kapstadt Roman spinnt sich um Familiengeheimisse und Beziehungen vor der reizenden und widersprüchlichen Kulisse des heutigen Kapstadt.

The Griekwastad Murders

The Griekwastad Murders

This is a full account on the Griekwastad Murders, which occurred on 6 April 2012, on the Naauwhoek farm in the Northern Cape, South Africa.

Die lenige liefde

Die lenige liefde

Die lenige liefde, ’n bloemlesing uit al De Coninck se werke, sal weereens die leser betower.

Mafeking Road und andere Erzählungen

Mafeking Road und andere Erzählungen

Mafeking Road und andere Erzählungen sind liebenswert schräge Kurzgeschichten aus der südafrikanischen Provinz, der nichts Menschliches fremd ist.