Leipoldt in Beeld en Woord, deur P. J. Nienaber et al.

Leipoldt in Beeld en Woord, deur P. J. Nienaber et al. Perskor-Uitgewery. Eerste uitgawe, eerste druk. Johannesburg, Suid-Afrika 1980. ISBN 0628017251 / ISBN 0-628-01725-1

Leipoldt in Beeld en Woord, deur P. J. Nienaber et al. Perskor-Uitgewery. Eerste uitgawe, eerste druk. Johannesburg, Suid-Afrika 1980. ISBN 0628017251 / ISBN 0-628-01725-1

Uit P. J. Nienaber sy boek, Leipoldt in Beeld en Woord, is hierdie volgende kapitel deur C. Louis Leipoldt oor homself.

C. Louis Leipoldt  D. F. Malherbe  P. J. Nienaber  

'n Kind wat aan homself oorgelaat word, mits daar in sy omgewing baie is waarin hy belang kan stel en hy ook nie heeltemal minder-waardig is nie, sal altyd iets vind om hom besig te hou. Die rigting wat hy inslaan, sal nie altyd dié wees waarin hy later die beste herberg sal behaal nie. Maar soms gebeur dit dat die lus en die aanleg vir iets gepaard gaan, en dat daardie eerste stappe van toenadering hom op die pad bring wat hy in die vervolg sal betree. So was dit ten minste in my geval. In die pastorie op Clanwilliam, waar ek my kinderjare deurgebring het, was daar 'n deeglike versameling boeke, en ons kinders kon daarvan gebruik maak sonder belemmering of sensuur. Op my vader se boonste boekrak was 'n aantal mediese werke, meegebring uit die sendingveld waar elke broeder so taamlik handlanger in elke beroep moes wees. Ek het nog 'n paar van hulle, en vandag lyk hulle baie ouderwets en uitgedien. Maar hulle was destyds die enigste lektuur in die studeerkamer wat nie sonder verlof aangeraak kon word nie. Die onderste rakke het soveel besit wat lesenswaardig en boeiend was dat ons eers nie daaraan gedink het om die boonste te bestorm nie. Eers later het die nuuskierigheid die oorhand gekry, en toe het ons nou en dan daarin gekyk. Op die onderste rakke was 'n paar boeke wat my besonder bekoor het. Een was 'n pragtige Dante, 'n Duitse vertaling; die ander was Bunyan se Heilige Oorlog of de Belegering van Mensesiel met Doré se illustrasies. Ek weet vandag nie meer watter van die twee my die eerste geïnspireer het nie. Ek onthou net maar dat my eerste bewuste poging om iets van my eie op papier te sit, 'n samespraak tussen Elshadai en Dante was. Ek sou vandag graag daardie gekrabbel wil oorlees, want ek is daarvan oortuig dat een van die twee die spreektrant van my vader moes gehad het en die ander dié van ou Jantjie Ruiters, ons hoofkleurlingkonstabel, wat maandeliks ons hare gesny en altyd oor moord en doodslag met ons gepraat het. 'n Kind is altyd 'n realis en gee getrou weer wat hy hoor. Dis net die volwasse skrywer wat soms aan sy helde sy eie persoonlikheid probeer gee. Ek was toe, sover ek my herinner, tussen sewe en agt. Ons het maandeliks sekere Engelse en Duitse tydskrifte gekry, waaronder die Daheim en die Boys' Own Paper. Laasgenoemde het elke jaar 'n soort van Eisteddfod (hulle het die naam toe nog nie in gebruik gehad nie) gehou met allerhande wedstryde vir intekenare. Die deelnemers, wat van elke oord waar die blad gelees is, gekom het, is verdeel volgens ouderdom. Die jongste groep was onder nege; die tweede groep tussen nege en twaalf; die derde tussen twaalf en veertien, en so het dit aangehou todat die boonste groep, kinders tussen sewentien en twintig jaar bereik is. Jy kon meedoen in versemaak, in opstelle, in oorspronklike stories, in tekenwerk, in timmermanswerk en in tal van ander onderwerpe en vakke. My broer, wat goed kon teken, het die eerste ingeskryf vir 'n wedstryd wat geloop het oor 'n kaart van Stevenson se eiland waarop die skat weggesteek was. Hy het die tweede prys behaal, en die sertifikaat wat na die pastorie gekom het, was so pragtig met sy gekrulde goudversiersels dat my eersug sterk geprikkel was. [...]

Dit is 'n uittreksel uit die boek Leipoldt in Beeld en Woord, deur P. J. Nienaber.

Titel: Leipoldt in Beeld en Woord
Skrywers: P. J. Nienaber
Uitgewer: Perskor-Uitgewery
Eerste uitgawe, eerste druk. Johannesburg, Suid-Afrika 1980
ISBN 0628017251 / ISBN 0-628-01725-1
Oorspronklike hardeband en stofjas, 19 x 25 cm, 143 bladsye, baie s/w fotos deurgaans

Nienaber, P. J. und Bax-Botha, M. A. und Smith, Johannes J. und Burgers, M. P. O. und de V. Pienaar, P. und Schoonees, P. C. und Malherbe, F. E. J. und Dekker, G. und du Plessis Grobler, P. und Leipoldt, C. Louis im Namibiana-Buchangebot

Leipoldt in Beeld en Woord

Leipoldt in Beeld en Woord

Leipoldt in Beeld en Woord is 'n uitgebreide en veelsydige bydrae tot die Leipoldtfees van 1980.

Afrikaanse Lyrik: Afrikaans-Deutsch

Afrikaanse Lyrik: Afrikaans-Deutsch

Afrikaanse Lyrik enthält 78 Gedichte aus verschiedenen zeitlichen Epochen, die sowohl in ihrer ursprünglichen Sprache Afrikaans als auch in Deutsch übersetzt abgedruckt sind.

Gedenkboek C. M. van den Heever 1902-1957

Gedenkboek C. M. van den Heever 1902-1957

Die boek Gedenkboek C. M. van den Heever 1902-1957 is 'n deel van die stel Versamelde Werke van C. M. van den Heever wat nog agt dele meer insluit.

D. F. Malherbe: Die Mens en Sy Kuns

D. F. Malherbe: Die Mens en Sy Kuns

Die Mens en Sy Kuns is 'n huldigingswerk by geleentheid van Prof. Dr. D. F. Malherbe se sestigste verjaarsdag in 1941.