Huilwater: 30 stories in die langpad, deur Louis Bothma

Huilwater: 30 stories in die langpad, deur Louis Bothma. Langenhovenpark, Suid-Afrika 2016. ISBN 9780620697415 / ISBN 978-0-620-69741-5

Huilwater: 30 stories in die langpad, deur Louis Bothma. Langenhovenpark, Suid-Afrika 2016. ISBN 9780620697415 / ISBN 978-0-620-69741-5

Huilwater is 'n bundel van 30 lekkerlees-stories. Dit bou voort op Losbaodjiesak, Bothma se versameling stories in die langpad wat reeds in 2011 verskyn het.

Krismis in die Boesmanland

Die lewe in die Boesmanland draai om twee dinge: water en jakkalse. Eersgenoemde gee lewe; laasgenoemde neem lewe. Oor jakkalse vertel ek later. Ek begin by water-die bittere stryd om genoeg water vir mens en dier in daardie ongenaakbare stuk aarde tussen Springbok en Pofadder te vind. Jy moes 'n boorman - met 'n stampboor - op daardie vlaktes, tussen daardie berge en duine gewees het, om iets hiervan te verstaan. Die Boesmanland moet nie met Namakwaland verwar word nie. Laasgenoemde is 'n winterreënstreek wat aan die Weskus grens. Dit is bergagtig met 'n golwende landskap. Die plantegroei bestaan uit 'n verskeidenheid bossies en struike en die klimaat is sagter. Daarteenoor is die Boesmanland 'n somerreënstreek met hoof-saaklik grasvlaktes. Aan die noordekant grens dit aan die Oranjerivier, aan die westekant aan Namakwaland, en aan die suidekant aan die Hantam. Die Hartbeesrivier wat by Kenhardt verby kronkel en by Kakamas by die Oranjerivier aansluit, is min of meer die Boesmanland se oosgrens. Wanneer mens van Pofadder af Springbok toe ry, is daar 'n uitgestrekte vlakte op linkerhand - "Die Bult," soos dit vanmelewe genoem is. Op regterhand is berge, koppies, vlaktes en rooiduine. Behalwe 'n eensame lemoendoring, of ITho, soos die Boesmanlanders dit noem, is daar geen skaduwee op die vlaktes nie. Waar dit klipperig is, is melkbosse en hier en daar 'n enkele witgatboom. In die berge is kokerbome en halfmensplante. Die landskap daal na die Oranjerivier se kant toe - na plekke soos Goodhouse, Ramansdrif, Pella en Onseepkans. In die ou dae, voor die teerpad gebou is en die myndorpie Aggenys net 'n plaas was, het die grondpad duskant Springbok verby 'n plekkie met die naam Mannetjie-Springbok geloop. Hier is dit al Namakwaland. 'n Entjie verder terug, Pofadder se kant toe, in die omgewing van die plaas Ratelkraal, is die grens tussen Namakwaland en Boesmanland. Manie Dixon van die plaas Verdruk, verduidelik só: "Waar die rooi koppe (van Namakwaland) en die blou koppe (van die Boesmanland) bymekaar kom, is die grens." Op "Die Bult" en in die vlakte tussen hierdie "blou koppe," was 'n dorsland waar net die Boesmans kon uithou. Hulle moes planne maak - water in volstruiseierdoppe onder die sand begrawe. Die veeboere daarenteen, wat min of meer 'n eeu gelede hierdie dorre lap aarde binnegetrek het, het baie meer waterstandhoudende waternodig gehad. Toe begin hulle "putse" grawe. Dit was harde werk, want water in die Boesmanland lê diep onder die aardkors weggesteek. Boonop was die grawery meestal vrugteloos, want vir elke vier of vyf "putse" wat gegrawe is, het een miskien water gegee. En dan was die water nie altyd drinkbaar nie. Vele plaasname is vandag die stille getuienis van hierdie worstelstryd om water te vind: Bitterputs, Galputs, Brakputs, Witputs, Kleinputs en Sandputs. Maar daar is darem ook Varsputs! Die koms van die stampboor het 'n groot verskil gemaak. Nie net kon dieper na water gesoek word nie, maar die staat self het ook bore beskikbaar gestel en die boordery gesubsidieer. Maar daar was nie genoeg bore nie. P. J. van der Merwe wat die Noordweste (Boesmanland, Namakwaland en die Kalahari) in die dertigerjare deurreis het, het in 1941 in sy boek, Pioniers van die dorsland, geskryf: Die dorsland roep nog altyd na water. [...]

Dit is 'n uittreksel van die boek 'Huilwater: 30 stories in die langpad', deur Louis Bothma.

Titel: Huilwater
Subtitel: 30 stories in die langpad
Skryver: Louis Bothma
Genre: Memoirs en staaltjies
Uitgewer: Louis J. Bothma
Langenhovenpark, Suid-Afrika 2016
ISBN 9780620697415 / ISBN 978-0-620-69741-5
Sagteband, 15 x 21 cm, 291 bladsye, enige fotos

Bothma, Louis J. im Namibiana-Buchangebot

Huilwater: 30 stories in die langpad

Huilwater: 30 stories in die langpad

Huilwater is 'n bundel van 30 stories deur Dr. Louis Bothma. Hy vertel van sy kindertyd in die Boesmanland, studentejare, van vriende, loopbaan en interessante karakters wat sy lewenspad gekruis het.