Die Verste Uur, van Steve Hofmeyr

Die Verste Uur, van Steve Hofmeyr.

Die Verste Uur, van Steve Hofmeyr.

Soms skerpe scherzo, soms heerlik grave, altyd gradioso. Die verste uur is ’n skerp, slim bravura simfonie van ’n storie. Steve Hofmeyr is ’n maestro. Deon Meyer

Steve Hofmeyr  

"Eendag nog hier, toe skielik weg."
"Wie, tannie?"
"Die oom."
"Waarnatoe?"
"Skoonveld. Weet nie. Ek vra myself elke dag. Was dit die kinders, 'n ander vrou miskien, was dit ek, was dit moord, selfmoord? Hy had geen ander familie nie. Sy pa is vroegerig reeds dood in 'n vreeslike motorongeluk, sy moeder ná ons troue. Hy't tog gepraat van 'n Elsabe, maar ... ag."
"Miskien het hy net gery, tannie ..."
"My man het nooit bestuur nie. Iets te doen met daardie ongeluk, sê ek jou. Ek was maar altyd die drywer hier rond. Winkels toe. Port Edward toe. Hy het agt-en-dertig jaar lank universiteit toe geloop."
"As daar nie 'n lyk is nie, tannie, dan ..."
"Hy het hier gesit. Kop vooroor. Hy het altyd so gelyk as hy aan die slaap geraak het. Dan skakel ek die musiek af."
"Miskien het hy gaan stap, tannie ..."
"Ek betaal R50 per uur. Pak hierdie lêers in bokse, gooi alles wat nie akademies lyk nie weg en vee die stof by die trappies af. Moet aan niks anders raak nie. Hierdie ou plate was sy troos en sy trots, het hy altyd gesê. Daar is seldsame versamelstukke hier, weet u? Smuts se toesprake by die Commonwealth, 1942. Duitse volksmusiek en Barok. Uit Duitsland, Italië en Frankryk veral. Al sy geldjies daarop gespandeer. My man het nie gholf gespeel, visgevang, gerook of gedrink nie. Net gelees en geluister. Veral die digkuns. Hy het geglo dat poësie die basis was van verdraagsaamheid, weet u?"

Ek het nie geweet nie, maar ek het gehoop as ek nie reageer nie, sy sal ophou praat.
"Weet u?"
Ek gee op.
"Nee, tannie ..."
"Ja. Want dit leer ons om dieselfde boom verskillend te aanskou. Ai, my Arnold was 'n diep man."
"Het tannie 'n besem?"
"Hy was ook besig om 'n biograne te skryf oor ene Ramou. Of so iets. Dis klassiek. Vir my klink die meeste simfoniemusiek maar eenders. Vervelig. Dit gaan so aan, u weet?"
Ek het geweet dit was nie rêrig 'n vraag nie.
"Maar dis die navorsing. Dit het hom klaar gehad, weet u. Hierdie was sy laaste jaar aan die fakulteit. Oor ... die oom was ongesond. 'n Vroeë fase van ... Alzheimersiekte."

Terwyl sy die klein bolletjie tissue in haar palm ooprol, kyk sy skielik weg soos mens doen as jy iets leliks gesê het. Ná 'n paar sekondes begin sy fluister asof iemand afluister.
"Hy het iets ... ontdek ... gelees ... in hierdie kamer. Dit het hom gepla. Hy't niks gesê nie, maar ek het geweet. Ek ken my Arnold."
Ek het nie geweet wat om te sê nie. Ek was nie seker wie Alzheimer was nie. Ook nie Ramou nie. Dit was awkward. Ek weet nie hoekom nie, maar ek het ook begin fluister.
"Het tannie 'n besem?"

Jean-Philippe Rameau (1683-1764)
Deur dr. A. du Plessis
Soos die geharde klimop die herfs en winter jaar ná jaar oorleef, rank die are van sluimerende kultuurgoed tog weer teen die binnehof se mure uit. Die goue Boergondiese era maak plek vir die swier van Barok en die geur van Keulse water verdring die reuk van kruit in tabberd, manteau en uniform. Hetsy bloureën of sterjasmyn, die ranker is 'n sonsteler.

Weet nie wat ek by die tannie verloor het nie. Miskien het ek die nota gelees omdat die Dr. Van der Bijl Science & Biology Campus 'n blok en vier laboratoriums met verskeie studentegroepe deel. Aan die kampusse spesialiseer jy in jou gekose rigting by verskillende fakulteite soos archeology, astrophysics, ethnology, genetics, sociology, African studies, ensovoorts. Dit alles op dieselfde perseel. Maar almal lees almal se bulletinborde vir aankondigings, discounts, freebies en loswerk.

Ek is 'n rasegte fisikus. My pa, verkenner-kommandoleier, skryn-werker, amateur-historiograaf en president van die Vriende van die Bonsai, werk eintlik by Sasol. Einstein is sy grootste invloed en ek daarom sy grootste teleurstelling. Die verengelsing hier pla hom ook baie meer as vir my generation. Ek self ken nie eens die Afrikaans vir al hierdie fakulteite nie. Comes with the territory, ou bal. Maar omdat ek kan sien dat dit my pa genuine grief, gooi ek my beste taal voor hom en praat oor tuine asof elke akker godsakker is. Net so.

Al klink dit soos Dr. Phil, verkies bioloë deesdae die naam life scientists. Anders dink mense net voortplanting en botanie. En alhoewel bloot akademies - en oop en bloot adolessent - het ons fisici die term wetenskaplike gekaap, omdat bioloë wat druip wild-temmers en plaasboere word. Ons word IT techies en dwelmsmouse. Erg kief.

Soos die howelinge se tuiniers dit jaar ná jaar terugsnoei, gee die kultuur ook iets prys. Iets gaan verlore. Maar die beloning vir 'n werklike honger beskawing is die parmantige bloeisels van geestesgoed. Die Boergondiese artieste sou die engele verguld, maar Barokmeesters sou hulle vlerke gee wat teen fresko's afbeweeg en land in die lig wat deur die hemelhoë koepels van die kerke na binne val.

As eerstejaar is jy eintlik nog niks. En as die nota op die bulletin-bord vra vir 'n student vir loswerk teen R50 per uur, bel jy nie dadelik nie. Jy ruk dit af en bel dan dadelik. En as iemand antwoord, gooi jy die nommer weg. Ver weg. Soos my pa altyd se, dooie duikers deel nie. Jy bel, want geen gebalanseerde ouers wie se kinders die weten-skappe aandurf, is ryk nie. En al was hulle, stuur niemand sakgeld nie, omdat omgee-ouers min vooruitsigte vir jou kan he in 'n loopbaan waarvan die ikone beperk is tot jou pa en Bill Nye the Science Guy. Die wetenskappe, biologie ingesluit, is van die min loopbaan-rigtings waar ouers saans heimlik bid dat hul bloedjies sal dop en huis toe kom. En my ou mense het dit nie breed nie.

Vandag weet ek dat my agie-geaardheid die skuld moet dra. Want as ek van beter geweet het, het ek daardie dag daardie nommer vir 'n armsalige bioloog gegee.
Dooie duikers deel nie. (...)

Dit is 'n uittreksel uit die boek: Die Verste Uur, van Steve Hofmeyr.

Titel: Die Verste Uur
Skryver: Steve Hofmeyr
Uitgewer: Zebra Press 2011
Kaapstad, Suid Afrika
ISBN 9781770221642
Hardeband, vooromslag, 14x22 cm, 128 bladsye

Hofmeyr, Steve im Namibiana-Buchangebot

Laaste dans, Drienie

Laaste dans, Drienie

Laaste dans, Drienie is 'n goed beplande, outentieke en good geskryfde, veelvlakkige liefdesverhaal.

Kapabel

Kapabel

Ná sy romantiese wetenskapfiksieverhaal, Die verste uur, het Steve Hofmeyr met Kapabel sy hand aan ‘n spanningsverhaal gewaag.

Vier briewe vir Jan Ellis

Vier briewe vir Jan Ellis

Met Vier briewe vir Jan Ellis debuteer die bekende sanger, Steve Hofmeyr, as prosaskrywer.

Mense van my asem

Mense van my asem

In Mense van my asem vertel Steve Hofmeyr sy lewensverhaal, in kenmerkende trant: openhartig, humoristies en uitgesproke.

Die verste uur

Die verste uur

In sy spanningsvolle nuwe boek Die Verste Uur maak Steve Hofmeyr jou al die duwweltjies raak trap op ’n fantastiese Jan Allemansreis.