Die Jakkalsdans, van François Loots

Die Jakkalsdans, van François Loots.

Die Jakkalsdans, van François Loots.

François Loots debuteer met Nagvoëls (2001), gevolg deur Lente in Beijing – laasgenoemde deur Rapport aangewys as een van die literêre hoogtepunte van 2003. Die Jakkalsdans is sy derde roman.

En dit is wat jy op die altaar moet berei: twee jaaroud lammers gereeld elke dag. Die een lam moet jy in die móre berei, en die ander lam moet jy teen die aand berei, met 'n tiende van 'n efa fynmeel, gemeng met 'n kwart-hin uitgestampte olie, en as drankoffer 'n kwart-hin wyn vir die een lam. En die ander lam moet jy teen die aand berei. Jy moet dit klaarmaak volgens die mórespysoffer en volgens die drankoffer wat daarby behoort, tot 'n lieflike geur. - Eksodus 29:38-41.

Aletta: Almal droom en alles droom. 'n Hond blaf by tye verskrik in sy slaap, 'n slapende kat spring soms skierlik verward op, 'n koei begin in die middel van die nag meteens herkou, terwyl kareeen soetdoringbome van reën droom. Nag ná nag, alhoewel 'n klip bedags ook droom: van 'n weerligstraal wat hom oopspalk, sy siel bevry en 'n koel reënvlaag oor hom kom neerstort. Alles droom, spoke en geeste ook, saam met Aletta wat droom dat sy op 'n groen heuwel staan. Al is daar gulle groen gras wat sy vanmelewe af nog nie in die Karoo gesien het nie, is dit die lug wat haar betower. 'n Sierblou hemel met voëls wat ver weg, tog ook so naby aan haar, verbyvlieg. Dis duiwe; sy glimlag en verlustig haar aan die genot wat hulle vlug in haar losmaak. Met so 'n wye vlerkspan.

Tog, duiwe het mos nie sulke groot vlerke nie? Haar glimlag verdraai ook, want toe 'n vlerk reg langs haar klap, frons sy. Nou vee 'n vlerk oor haar hare en met die wegbuk uit nog 'n vlerk se pad, gewaar sy 'n hok. Die duiwe is ingehok en rondom haar gee 'n paniekerige voëlgeraas uiting aan juis hierdie gewaarwording. Hulle is nie net ingehok nie, daar is ook iets anders in die hok. 'n Ystervark? 'n Slang, raai sy. Miskien selfs n jakkals. Opnuut omring 'n wilde voëlgeskreeu haar. In hulle paniek vlieg die duiwe teen haar vas en sy probeer hulle met 'n paar wilde swaaie van haar arms afweer terwyl sy soekend 'n paar tree vorentoe gee. Daar moet tog iewers 'n hekkie wees, iets om oop te maak. Sy kom gelukkig op die swaar metaal-grendel van 'n hek af en moet buk om dit oop te maak. Terselfdertyd kyk sy om. Sy skrik en word wakker met 'n ongekende wete dat alles daarmee heen is. Dis reeds lig.

Sy is in haar slaapkamer. Bewussyn kom stadig en toe sy regop sit om haar eers in hierdie dag te anker, hoor sy nog die geklap van vlerke. Dis ook nie meer so vroeg nie. Die daglig is reeds skerp, maar die duiwe verbaas haar. Hulle was wit, terwyl 'n mens hier rond net die grysblou bosduif kry. Daarbenewens het hulle van iets af probeer wegvlieg. En hulle was ingehok. Aan drome is daar egter altyd iets onlogies, want sy vermoed dat iets groters as net die stange van die hok hulle ingeperk het. Wat dit ook al was, sy het wakker geword met 'n vreemde gevoel dat alles verlore is. Dis oggend en sy behoort aan die gang te kom. Deesdae talm sy egter om by die Algemene Handelaar uit te kom. Vanoggend lê sy weer agteroor en trek haarlappop nader, die pop wat sy as kind gekry het, maar nooit van ontslae kon raak nie en vroegjaar weer uit 'n kis gaan grawe het.

Die pop het haar herinner aan 'n ander Aletta, 'n jonger en gelukkiger vrou. En sy het haar verbeel die pop bied haar begrip wat nóg Mannetjies haar ooit kon gee, nóg enige toekomstige lewensmaat haar ooit sal kan gee. Met haar japon aan gaan sy kombuis toe. Haar oog val op die kom-buistafel. 'n Koffiebeker, die beskuitblik en Mannetjies se asbak. Hy is op en seker al winkel toe om te gaan oopsluit. Sy maak die blik toe en mik vir die spaarslaapkamer. In die sitkamer lê sy skoene op die vloer. Op die koffietafeltjie staan 'n bottel brandewyn en 'n leë glas. Mannetjies se gisteraand.

"Lena kan dit opruim," prewel sy binnensmonds. As sy vandag hoege-naamd inkom. Sy gaan gangaf en draai by die spaarkamer in. Twee enkelbeddens. Die beddegoed van ene is deurmekaar. Mannetjies se slaapplek. "Lena," prewel sy weer en gaan terug kombuis toe. Sy tel die asbak op. Omdat sy nie van die reuk hou nie, kyk sy sywaarts deur die venster terwyl sy dit in die asblik leegmaak. Haar oë kom op 'n gedeelte van die agterplaas te ruste, 'n kaal oop kol tussen die garage, agtermuur en kombuisdeur. Sy sit die asbak neer en maak die kombuisdeur oop. Al is dit skaars agtuur, is die son so fel dat sy terugdeins.

Dit is gewoonte om die skerp wit lig en die dag se gloed te probeer ontwyk. Sy verseker haarself die dag is nog maar net 'n galoppie en leun na-denkend teen die kombuisdeur terwyl sy na die leë stuk agterplaas staan en kyk. Daar is wel drie groot blompotte wat Kerneels haar hierheen help aanry het. Weens die groot peperboom in die teenoorgestelde hoek van die agterplaas wil niks hier groei nie en was sy van plan om hier gruis en spoelklippe te gooi en potte te gebruik om 'n groen hoekie te skep. Met 'n tafeltjie en 'n stoel of twee. 'n Private hoekie, want anders as in die voortuin, kan niemand jou hier sien nie. Dis tog in hierdie agterhoek waar sy saans so dikwels na begrip en antwoorde kom soek. En nou? Noudat sy met hierdie vreemde gevoel wakker geword het?

Hierdie lewe is immers nie die ene waarvan die jong Aletta gedroom het nie. By tye het sy soveel meer deernis vir haar jonger self. Vir die jong Aletta, alhoewel dié onherroeplik aan die verlede behoort. Sy was darem nie meer 'n kind nie, daardie somer toe sy teruggekom het. Ná skool het sy 'n sekretariële kursus in die Kaap gaan volg en daarna was sy weer op pad huis toe. Sy het trein gery. Stellenbosch, Worcester, De Doorns, maar nog voor Touwsrivier het die Klein-Karoo se droë lug haar berouvol gemaak. Dit was 'n fout. Sy wou nie uit die Kaap padgee nie. Ná Nuwejaar sal sy teruggaan stad toe. Daar is mos altyd 'n werksgeleentheid vir 'n sekretaresse.

Na dié besluit het die landskap vir haar begin verander. Sy het by die venster lê en uitkyk. Die oop vlaktes en die wye lugruim het haar 'n gevoel van vryheid gegee. Hierdie plek was egter nie haar tuiste nie. Haar broer sou eendag die grond erf en verder boer, maar sy sou altyd kon terugkeer om te kom kuier. Haar ma en pa het haar die volgende aand by Prieska se stasie ingewag. Die ou stasie, nou 'n leë stuk grond oorkant Edgars. Sy het by die venster van die kompartement uitgeleun toe die trein die stasie intrek en Mannetjies raakgesien. Hy het by tannie Joe se stasiekafee gestaan. […]

Dit is 'n uittreksel uit die boek: Die Jakkalsdans, van François Loots.

Titel: Die Jakkalsdans
Skryver: François Loots
Uitgewer: Randomhouse Struik
Imprint: Umuzi
Kaapstad, Suidafrika 2011
ISBN 9781415201015
Sagteband, 15x22 cm, 256 bladsye

Loots, François im Namibiana-Buchangebot

Die Jakkalsdans

Die Jakkalsdans

Die Jakkalsdans is die derde roman van François Loots.

Rooi Jan Alleman

Rooi Jan Alleman

Rooi Jan Alleman is ’n fiktiewe weergawe van die Suid-Afrikaanse kommunis Bram Fischer se lewe.

In sneeu geskryf

In sneeu geskryf

François Loots lewer met In sneeu geskryf weer ‘n belangrike roman, juis in ‘n tyd dat die gaydebat voortgesit word.