Die Dag van die Lord, deur Johan Kruger

Die Dag van die Lord, deur Johan Kruger. Penguin Random House South Africa (Umuzi). Kaapstad, Suid-Afrika 2015. ISBN 9781415207420 / ISBN 978-1-4152-0742-0

Die Dag van die Lord, deur Johan Kruger. Penguin Random House South Africa (Umuzi). Kaapstad, Suid-Afrika 2015. ISBN 9781415207420 / ISBN 978-1-4152-0742-0

Met 'Die dag van die Lord' lewer Johan Kruger egter ‘n besonder lekker toetrede tot lekkerleesboeke.

Heidelberg / Duitsland Europese herfs, 1913

Die woede lê vlak in sy keel. "Kitchener verdien om stadig en grusaam te sterf. Is hy bereikbaar?" Andries hou die man wat langs hom sit ongemerk dop. Hy wil sien watse uitwerking sy woorde het. Hou hierdie man die sleutel om toegang tot die skimfiguur Kitchener te bewerkstellig? Dis immers wat die Generaal gesê het. "Hy is ongetwyfeld bereikbaar. En kwesbaar, by wyse van spreke."Die atleties geboude man met die pluimhoed wat hom vroeër as Fritz Joubert Duquesne voorgestel het, lag gedemp. "Mits jy weet hoe. Kom ons sit." Duquesne beduie na 'n houtbankie onder 'n berkeboom. Andries kan sy opwinding skaars bedwing. Vir die eerste keer in jare is hier iemand wat blykbaar sy oortuiging deel dat Kitchener nie straffeloos mag ontkom nie. En bereid is om iets daaromtrent te doen. Dié man - so het die Generaal gesê - beskik oor die nodige ervaring en vernuf. "En waarskynlik ook oor die nodige kontakte op die regte plekke. Maar wees maar versigtig vir hom," het die Generaal bygevoeg, "hy spog graag. En mens weet nooit wanneer eiebelang vir hom die groter saak oorskadu nie." Duquesne het hom vroeër soos afgespreek in die kasteel se tuin ingewag: Suidduitse hoedjie met pluim en meerschaum-pyp in die mond, die ooreengekome kentekens. "Andries Fourie?"het die man hom onbeskroomd op Afrikaans gevra toe hy huiwerig nader gestaan het, die opgevoude koerant volgens afspraak onder sy linkerarm. Duquesne se handdruk was stewig en sy glimlag breed. Andries skat Duquesne so vyf en dertig, miskien ietwat ouer. Langer as die gemiddelde, forse skouers, helderblou oë, gitswart hare wat onder die hoedjie uitloer. Lyk eerder soos 'n Franse edelman. Dit was Andries se eerste Afrikaanse woord in maande. Gesprekvoering met homself in die spieël in die privaatheid van die badkamer tel nie. Sy regstudie aan die Universiteit van Heidelberg is byna voltooi en Londen wink. Dis daar waar hy binnekort die laaste skof van sy opleiding as advokaat gaan aanpak. Maar hy moet versigtig wees; enige sweem van simpatie met die Duitsers en sy kanse is gefnuik. Sy studie in Heidelberg kan hy maklik verduidelik; dit was immers regter De Villiers van Pretoria wat dié pad vir hom oopgemaak het. Dit was Andries wat die tuin van die kasteel as ontmoet-ingsplek met Duquesne gekies het. Deur die venstertjie van sy huurkamer aan Philosophenweg tuur hy dikwels na die pragtige gesig oorkant die Neckarrivier: die Alte Brúcke met die indrukwekkende suile van die Karlshek aan die verste end daarvan, teen die agtergrond die skynbaar nieplanmatige en byna wispelturige torinkies van die kasteel soos uitgroeisels aan 'n pokkehand. Die kasteel, genestel in die woud se groen, is sy fokuspunt wanneer die verlange na Retha aan die suidpunt van Afrika Jreig om die oorhand te kry, die kasteeltuin die plek waarheen hy kom om rustigheid te vind. En op die vensterbank van die venstertjie waardeur hy uitkyk, nooit vir lank buite sig nie, die oorblyfsels van hulle wat eens sy lewe was: die lappop se been met groen kous en al, die hobbelperd se snoet en ore, die hemelbed se draaistuk, die halfverbrande boek. En eenkant, alleen, sy gooitol se ysterpunt. Algar praat met hom, smeek hom om te vergeld. Die haat is soos 'n wurm wat in sy ingewande woon. Soms vergeet hy amper dat dit daar is, maar nie vir lank nie. [...]

Dit is 'n uittrecksel van die roman 'Dag van die Lord', deur Johan Kruger.

Titel: Dag van die Lord
Skryver: Johan Kruger
Genre: Roman
Uitgewer: Penguin Random House South Africa (Umuzi)
Kaapstad, Suid-Afrika 2015
ISBN 9781415207420 / ISBN 978-1-4152-0742-0
Sagteband, 13 x 21 cm, 304 bladsye

Kruger, Johan im Namibiana-Buchangebot

Die dag van die Lord

Die dag van die Lord

Die dag van die Lord is ‘n lekkerleesroman wat baie goed nagevors is en vul ‘n deeltjie van daardie spioenasievakuum in Afrikaans.