Bewys van die Hemel: 'n Neurochirurg se reis na die hiernamaals, deur Eben Alexander.

Bewys van die Hemel: 'n Neurochirurg se reis na die hiernamaals, deur Eben Alexander. The Penguin Group (South Africa). Kaapstad, Suid-Afrika 2013. ISBN 9780143538349 / 978-0-14-353834-9

Bewys van die Hemel: 'n Neurochirurg se reis na die hiernamaals, deur Eben Alexander. The Penguin Group (South Africa). Kaapstad, Suid-Afrika 2013. ISBN 9780143538349 / 978-0-14-353834-9

Anders as vele ander beskrywings van nabydood-ervarings kan Eben Alexander deur Bewys van die Hemel verduidelik waarom sy brein nie in staat was om sy reis na die hiernamaals te versin nie.

Toe ek 'n kind was, het ek dikwels gedroom dat ek vlieg. Gewoonlik het ek saans in ons agterplaas na die sterre staan en kyk en dan, meteens, sou ek begin opstyg. Die eerste twee duim het sommer vanself gebeur. Maar gou het ek agtergekom dat hoe hoër ek styg, hoe meer het my vordering van my afgehang - van wat ek doen. As ek te opgewonde raak, te begeesterd raak deur die ervaring, het ek teruggeval aarde toe ... hard. Maar as ek koelkop bly, dit vat soos dit kom, het ek al hoe vinniger in die sterrehemel opgestyg. Miskien was hierdie drome een van die redes waarom ek, toe ek groter word, op vliegtuie en vuurpyle versot was - op enigiets wat my kan meevoer na die wêreld daar bo. As ons gesin iewers heen sou vlieg, was my gesig plat teen die kajuitvenster gedruk, van die oomblik dat ons opstyg totdat ons land. Gedurende die somer van 1968, toe ek veertien was, het ek al die geld wat ek met gras sny verdien het, uitgegee op sweeftuiglesse. Die instrukteur was 'n man met die naam Gus Street, by Strawberry Hill, 'n vliegveld met 'n grasaanloopbaan, net wes van Winston-Salem, Noord-Carolina, die dorp waar ek grootgeword het. Ek onthou nog goed hoe my hart in my keel geklop het toe ek die groot rooi knop uittrek wat die tou van die sleeptuig loshaak en ek my sweeftuig in die rigting van die vliegveld laat kantel. Dit was die eerste keer ooit dat ek werklik alleen en vry gevoel het. Die meeste van my vriende het daardie gevoel gekry as hulle motor bestuur, maar niks het vir my gekom by die sensasie om duisend voet bo die aarde te sweef nie. As student in die sewentigerjare het ek by die Universiteit van Noord-Carolina se valskermspringspan aangesluit. Dit was vir my soos 'n geheime broederskap, 'n groep mense wat iets spesiaals gedeel het. My eerste sprong was vreesaanjaend, en die tweede nog meer so. Maar teen die twaalfde sprong, toe ek uit die vliegtuig spring en meer as 'n duisend voet vryval voordat ek my valskerm laat oopgaan (my eerste "tien-sekonde-vertraging"), het ek geweet ek is in my element. Ek het in die loop van my studentejare 365 valskermspronge gemaak en meer as drie en 'n halwe ure in vryval aangeteken, hoofsaaklik in formasies met soveel as vyf-en-twintig medespringers. Hoewel ek in 1976 ophou spring het, het ek dikwels daarna nog helder drome oor valskermspring gehad, wat altyd mooi en aangenaam was. Die beste spronge was dikwels laatmiddag, wanneer die son agter die kim begin wegsak. Dis moeilik om die gevoel van daardie spronge te beskryf: 'n gevoel van nader aan iets te kom wat ek nooit 'n naam kon gee nie, maar waarvan ek nie genoeg kon kry nie. Dit was nie soseer om alleen te wees nie, want ons het juis nie alleen gespring nie. Daar was vyf, ses, soms tien of twaalf mense wat aan een vryvalformasie deelgeneem het. Hoe meer springers en hoe groter die uitdaging, hoe beter. Een pragtige herfsdag in 1975 het die UNC-span saam met springers van 'n valskermsentrum in die ooste van Noord-Carolina aan formasies deelgeneem. Met ons voorlaaste sprong, uit 'n D18 Beechcraft teen 10500 voet, het tien van ons 'n sneeuvlokkie-formasie gemaak. [...]

Dit is 'n uittrecksel van die boek Bewys van die Hemel: 'n Neurochirurg se reis na die hiernamaals, deur Eben Alexander.

Titel: Bewys van die Hemel
Subtitel: 'n Neurochirurg se reis na die hiernamaals
Skryver: Eben Alexander
Genre: Hersiening
Uitgewer: The Penguin Group (South Africa)
Kaapstad, Suid-Afrika 2013
ISBN 9780143538349 / 978-0-14-353834-9
Sagteband, 14 x 22 cm, 192 bladsye

Alexander, Eben im Namibiana-Buchangebot

Bewys van die Hemel

Bewys van die Hemel

Bewys van die Hemel is 'n aangrypende verhaal, uniek in die literatuur oor geestelike ervarings, wat die manier waarop ons ons rol in die heelal verstaan, mag verander.