Die prosaskrywer en digter Dr. J. R. L. van Bruggen (Kleinjan)

Die prosaskrywer en digter Dr. J. R. L. van Bruggen 'Kleinjan' (1895-1948). Regterhand sy laaste roman 'Die Winter kom' wat eers 1950, nadat hy gesterf het, verskyn.

Die prosaskrywer en digter Dr. J. R. L. van Bruggen 'Kleinjan' (1895-1948). Regterhand sy laaste roman 'Die Winter kom' wat eers 1950, nadat hy gesterf het, verskyn.

Oorskou ons die lewe van die digter en poet Dr. J. R. L. van Bruggen (Kleinjan), dan besef ons dat hy hard en baie gewerk het terwyl dit dag was, dat hy sy volk 'n ryk erfenis nagelaat het. Hierdie teks het ons gevind in die voorwoord van sy laaste roman 'Die winter kom'.

Hy was opvoedkundige, maar veral op letterkundige gebied het hy naam gemaak, beide as prosaskrywer en digter. Dr. J. R. L. van Bruggen is op 15 September 1895 in Johannesburg gebore as seun van wyle Jan van Bruggen, dosent aan die Johannesburgse Normaalkollege. Sy hoërskoolopleiding het hy aan die King Edwardskool ontvang. Sy universitêre loopbaan het aan die Transvaalse Universiteitskollege, Pretoria, 'n aanvang geneem, waar hy die B.A.-graad met onderskeiding behaal het, en in 1919 die M.A.-graad. Pas na die Eerste Wêreldoorlog is hy na die Amsterdamse Universiteit, waar hy in 1922 die D.Phil.-graad verwerf. Hy keer terug na die Unie, en tree toe tot die personeel van die Helpmekaar Hoérskool, waar hy vyf jaar lank as onderwyser werk-saam was. Daarna is hy aangestel as dosent in Afrikaans aan die Onderwyserskollege, Potchefstroom, 'n betrekking wat hy vyftien jaar lank beklee het. Die laaste paar jaar van sy lewe was J. R. L. van Bruggen in Johannesburg woonagtig, en het hom uitsluitlik op skryfwerk toegelê. Hy het spesiale belangsteling vir jeuglektuur gehad, en op hierdie gebied was hy dan ook 'n deskundige. Sy doktorale proefskrif het gehandel oor Lektuurvoorsiening vir Kinders en jeugdige Persone. As letterkundige het dr. Van Bruggen beweeg op die gebied van die poësie, die roman en die drama. Hy behoort tot die groep digters wat bekend staan as die „Jongeres", hulle tree ongeveer 1919 op, en bring 'n nuwe gees in die Afrikaanse digkuns, hoewel nie baie helder omlyn nie. Hulle lewer nou ook die eerste ware Afrikaanse minneliriek. In hulle werk word daar 'n nuwe klank gehoor, al is die stem nie baie duidelik nie. Daar is by hulle 'n mate van opstandigheid teen die heersende tradisies, en ook wat godsdiens betref. Die Tweede Vryheidsoorlog is nie vergeet nie, maar hulle síaan verder weg as Leipoldt en Celliers, en word nie deur die onmiddellike smart ontroer nie, maar deur die heroïese. Tot hierdie groep behoort ook A. D. Keet, Theo Wassenaar en Toon van den Heever. Kleinjan, dit was J. R. L. van Bruggen sy skuilnaam, is op 09.05.1948 in Johannesburg oorlede. Die vreugde, maar ook die bitterheid van die lewe was sy deel; soms het hy verdwaal, het hy God gebid om 'n soeklig:

Ek is moeg vir hierdie lewe,
Moeg vir onrus, en van pyn,
Moeg van ronddwaal in die duister,
Moeg van glans en moeg van skyn.

Daar is skepe wat verdwaal raak
Op die see se spoorloos pad,
As die huilwind in die duister
Golwe krui en stukkend spat.

'k Weet van mense wat verdwaal raak
In die donker van hul siel,
Waar daar eie, wrede, branders
Stadigaan hul gees verniel.

'k Sien die dowwe oë smekend bid:
—„ 'n Soeklig Heer!
Wys ons net die blinde klippe
Dat ons terug kan keer.


Empfehlungen

Die winter kom

Die winter kom

Die Winter kom was Kleinjan sy laaste roman.